Die Stellenbosch-munisipaliteit se begroting vir 2025-’26 wys dat R59,8 miljoen vir Cloetesville geoormerk is.

Op die oog af lyk dit na ‘n ruim belegging – veral omdat R29,9 miljoen bestee gaan word om ‘n derde 66 kV-transformator by die Cloetesville-substasie te installeer. Maar kyk ‘n bietjie dieper en dit word gou duidelik dat Cloetesville-inwoners min of liewer niks daarby gaan baat nie. Hoewel die transformator fisiek in Cloetesville gebou word, is dit nie hoofsaaklik om in die elektrisiteitsbehoeftes van die plaaslike gemeenskap te voorsien nie.

Die projek dien eerder om die groeiende ontwikkelings aan die buitewyke, soos Newinbosch en Redwood, van krag te voorsien. Munisipale kontrakteurs is reeds besig met rigtingboorwerk en kabellegging om hierdie landgoedere direk aan Cloetesville se substasie te koppel. Is dit werklik R29,9 miljoen vir Cloetesville?

Wat eintlik gebeur, is ‘n belegging deur Cloetesville – ‘n gemeenskap wat die las van grootskaalse infrastruktuur dra, maar min tasbare voordele ontvang.

Ons verdien égte belegging – projekte wat in plaaslike behoeftes voorsien en lewens verbeter. Elektrisiteit vir wie? Cloetesville verdien beter as om bloot ‘n afrit op die pad van uitbreiding te wees.

Chris Januarie,

E-POS

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article