‘n Paar jaar gelede het die Wes-Kaap omtrent net-net by Dag Zero omgedraai in terme van geen water vir ons gebied nie. Ons as burgers is gevra om so spaarsamig as moontlik te werk en baie planne is in werking gestel om inwoners se waterverbruik tot ‘n minimum te beperk.

Ons as gemeenskap (huiseienaars, sakeondernemings, ens.) het daadwerklik aandag gegee aan die versoeke en Dag Zero het toe nie ‘n werklikheid geword nie (dankie, liewe Vader!)

Volgens bronne sou dit drie tot vier jaar neem om damme se watervlakke te herstel, maar toe kom ons Hemelse Vader en Hy open die hemele en ons kry genoeg reën om die damme binne een seisoen te vul. Daar was gesprekke om ontsoutingsaanlegte te bou en miskien die damme se walle op te bou (te lig) om meer water vir die “maer” jare te hê.

Toe ons mense in beheer sien die damme is weer vol, toe is al hierdie planne by die agterdeur uit en niks is gedoen om die waterskaarste met die voorgestelde planne aan te durf nie. Nee, ons mense in beheer (die munisipaliteit) teken toe blitsig nuwe behuisingsplanne van miljarde rande en spog daaroor.

Kyk maar na Kayamandi, behuising langs die Bottelarypad asook die R304-pad naby Koelenhof en die middestad. Elke behuisingsprojek behels kombuise, badkamers, storte en toilette. En om sout in die wonde te vryf, verskuif heelwat van die ander provinsies se mense na die Wes-Kaap (Stellenbosch) en behuising bly net vermeerder.

My vraag aan die regering, munisipaliteit en provinsie is: As ons bewus is hiervan, waar is ons “strategiese span” wat na hierdie dinge moet kyk en beplan en uitvoer? Of kyk ons net na die nou en beplan nie vir die toekoms nie?

Dit is nie net water nie, maar ook die afvalbeheer (riool), paaie en elektrisiteit. Ons word erg belas om vir hierdie dinge te betaal, maar niks word gedoen nie. Herstelwerk is altyd en sal altyd by ons bly en kan nie as verskoning gebruik word nieNet om te spaar en ons te belas, is myns insiens hul enigste oplossing, want ek sien nie planne of daadwerklike optrede om die situasie te beredder nie (ek erken bietjie is gedoen met elektrisiteitsvoorsiening).

Ek moet net sê hoe minder water, elektrisiteit of afval gebruik word, hoe minder geldelike invordering is daar en dan word die verbruik van grondstowwe net verhoog en ons moet daarvoor betaal – ‘n verloor-verloor-situasie vir die belastingbetaler en ‘n wen-wen-situasie vir die regeringsinstansies.

Dit is eenvoudige wiskunde – indien ‘n dam gebou is om water vir sê een miljoen mense te voorsien en hulle watersekerheid vir minstens nege maande tot ‘n jaar te gee, is dit seker vanselfsprekend dat dieselfde dam nie sê vyf miljoen mense dieselfde vir dieselfde tydperk kan gee nie. Nee; dit is hoekom ons ‘n tekort aan water het en damme so vinnig leeg word en dan blameer ons die seisoen en die reën en alles anders behalwe onsself, wat nie aksie geneem het om met meer mense en behuisingsskemas tred te hou nie!

Dit is die verantwoordelikheid van elke munisipaliteit, provinsie en regering! Die oplossing – stel ‘n strategiese span saam wat bevoeg is en al die infrastrukture ondersoek met die oog op die volgende 20 jaar of so en beraam dan planne vir uitvoering binne sekere tydperke en kommunikeer met die publiek om hulle op hoogte te hou van “progress”!

Schalk van Heerden (afgetrede ingenieur),

EPOS.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article