Die toestand van die perseel waar Stellenbosch se kantoor vir Binnelandse Sake geleë is laat veel te wense.
Die toestand van die perseel waar Stellenbosch se kantoor vir Binnelandse Sake geleë is laat veel te wense.

‘n Paar jaar gelede was ek in George en het ‘n foto geneem van die skokkende toestand van die gebou waarin die Departement van Binnelandse Sake gehuisves is.

Ek het dit uiteindelik nie vir Naledi Pandor, die destydse minister van binnelandse sake, aangestuur nie, want sy het destyds nie haar departement bestuur nie – dit het gelyk of sy te besig was met haar eie politieke sake.

Buite die kantore van Binnelandse Sake in Stellenbosch.

Toe ek van die nuwe minister van die departement, dr. Leon Schreiber, lees en verneem hy is boonop ‘n Stellenbosser en ‘n oudleerder van Paul Roos Gimnasium (jammer, hy kon seker nie toelating in Rondebosch kry nie), was ek aanvanklik bly.

Ek het met groot belangstelling gevolg hoe vinnig hy dinge sou omdraai – só vinnig dat ‘n mens glo binne ‘n jaar ná jou aansoek selfs ‘n ID-kaartjie sou kry.

Ek was [in November] vir die tweede keer by die plaaslike binnelandse-sake-kantoor om my ID te vervang nadat dit saam met my selfoon in die see geval het.

En, soos te verwagte, is Ricardo – wat saam met my werk en gewoonlik vir my in die ry gaan staan – wéér teruggestuur met die aankondiging dat “die rekenaar van lyn af” is. Dit klink my dinge is eerder “van die spoor af”.

Ek heg ook foto’s van die haglike toestand van die gebou aan. As hulle nou vinnig spring, kan hulle ‘n stroper van die koringboere inkry om die gras wat in die geute groei, te stroop, wat sal help as finansiering om net die basiese reg te kry deur verf te koop vir al die buitehout wat verweer en tuinvullis wat ophoop, te verwyder.

‘n Kennisgewingsbord op die perseel van die plaaslike Binnelandse Sake-kantoor.

Inteendeel – ek is bereid om op eie koste te gaan help skoonmaak.

Ek kan eenvoudig nie glo dat die munisipaliteit toelaat dat ‘n staatsgebou só verval en dat nog van mense verwag word om daarin te werk nie.

Dit is skandelik dat werknemers in sulke omstandighede gelaat word.

So, meneer die minister-oud-Paul Rooser, sal u nie, wanneer u weer Kaap toe kom, vir u drywer en blouligbrigade vra om net daar verby te ry nie?

Ek sal u daar ontmoet met ‘n graaf in die hand. Dan spit ons sommer saam ‘n hoekie skoon, net om te wys dat probleme nie in kantore en/of R500-miljoen konferensies opgelos word nie, maar op die grond waar dit werklik saak maak.

Jammer dat ek hierdie dinge in die pers aan u rig, maar dit lyk my joernaliste is deesdae die enigste wat politici en amptenare aan die werk kan kry.

J.W. “Whitey” Basson

E-pos

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, antwoord: Neem asseblief kennis dat die betrokke terrein nie deur die munisipaliteit of die Departement van Binnelandse Sake besit of onderhou word nie. Enige vrae oor die toestand of instandhouding van die gebou of erf kan direk aan die eienaar, naamlik die Departement van Openbare Werke, gerig word. Die munisipaliteit kan volgens wet slegs sy eie eiendom en openbare ruimtes onderhou, soos die pad, sypaadjies en omliggende oop gebiede.

• Eikestadnuus het na die Departement van Binnelandse Sake uitgereik, maar nog geen

terugvoering ontvang nie. – Red.

Gras wat in geute van die plaaslike kantoor groei is net een van vele tekens van swak onderhoud van die kantore.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article