Die Hoërskool Stellenbosch het Dinsdag 19 April sy Toastmasters-gala-aand gehou waar leerders uitmuntende toesprake gelewer het.
Die Stellenbosse Toastmastersklub het vroeër ’n jeugleierskapskursus aangebied.
“Die doel van Toastmasters is om doeltreffende kommunikasie te bevorder. Dit was ’n besondere aand met net die regte atmosfeer.
“Die leerders het uitmuntende toesprake gelewer en elke Toastmaster het sy/haar uitstekend van hul taak gekwyt,”sê Eileen de Beer, kommunikasiebeampte by die hoërskool.
“Die doel was om die gehoor te inspireer en daardie doel is beslis bereik. Die beste sprekers van die aand is ook aangewys.”
Enamari Goldie is as wenner aangewys nadat sy die gehoor geïnspireer het om elke sekonde van hul lewe die moeite werd te maak.
Sy het drie waardevolle wenke gegee en dit is om eerstens aan jou eie uurglas te werk deur jou drome na te jaag, om tyd met familie deur te bring en laastens ’n verskil te maak in die omgewing waar jy geplaas is.
Haar toespraaktitel was “Uurglas van die lewe”.
Marina van Niekerk het die tweede plek behaal deur die gehoor te motiveer om meer te glimlag.
Sy het beklemtoon dat jou gedagtes verantwoordelik is vir alles in jou lewe en dat dit belangrik is om jou gedagtes te verander sodat jy jou lewe kan verander.
Die derde plek het gegaan aan Carli Vermaak met haar toespraak, Be the best that you can be. Sy het die gehoor aan die volgende herinner: “Once you’ve identified the person you want to be, you can plan how to become the best version of yourself.”
“Ons is trots op hierdie 13 graad 11-leerders wat die kursus suksesvol voltooi het deur doeltreffende kommunikasie te bevorder.”




