Avril Fillies
Een van die agt spanne wat aan die onlangse Dwarsriviervallei-sewestoernooi deelgeneem het, is Lanquedoc All Stars en hoewel die klub in 2005 gestig is, is daar hope talent.
Dís hoe Andries Arendse, een van die stigterslede, voel. Die ander stigterslid is Sydney van der Westhuizen en tesame is hulle verantwoordelik vir die groei van die klub in die Dwarsriviervallei.
Die klub bestaan tans uit vyf junior spanne – o.10, o.12, o.14, o.16 en o.18 – en twee senior spanne. Laasgenoemde twee speel in Boland-rugbyunie se Sentraal-streekuitdaagkompetisie.
“Van ons juniors speel op skoolvlak en het al Boland se ouderdomsgroepe gehaal. Ons juniors speel onder die vaandel van die Stellenbosch landelike-rugbyunie en behoort nie aan die Westelike Provinsie- of Boland-rugbyunie nie,” sê Arendse.
LEES OOK: Al agt Dwarsriviervallei-spanne byeen vir eerste 7’s-toernooi
“Spanne teen wie die juniors speel, sluit in Van der Stel-Evergreens, Wemmershoek, Dennegeur, Simondium en La Motte en die kompetisie onder die spanne is taai. Die meeste van ons spelers is van Lanquedoc, maar daar is ook ander van omliggende gebiede in ons spanne, want ons wil vir soveel spelers moontlik die kans gee om rugby te speel.”
Net soos enige klub het Lanquedoc All Stars ook talle uitdagings en behoeftes.
“Ons het geen borge nie en vervoer is ons grootste uitgawe. Ons moet betaal vir die besproeiing van ons rugbyveld en het nie geld om ‘n paviljoen vir ons onder-
steuners te bou nie. Maar ons hoop daar is ‘n barmhartige samaritaan daar buite wat ons hiermee sal help,” sê Arendse.

Die Dwarsriviervallei-sewestoernooi was volgens hom ‘n goeie inisiatief deur die Pniël Villagers-rugbyklub om die Dwarsriviervallei-gemeenskap bymekaar te bring.
“Ek dink dit was uitstekend gereël en ek wil Pniël Villagers ‘n klop op die skouer gee. Aan al die ander spanne teen wie ons gespeel het, wil ek dankie sê, want ons het baie geleer uit elke wedstryd en sal nou daarop voortbou,” voeg Arendse by.
“Vir die gemeenskap wil ek namens die bestuur dankie sê vir hul lojale ondersteuning die afgelope 20 jaar, nie net by die sewestoernooi nie, maar deur die jare. Die klub nooi enigeen uit om te kom help en dat almal hul kinders moet stuur om by die juniors en seniors aan te sluit. Ons het almal nodig om ons gemeenskap en ons sport in Lanquedoc ‘n krag te maak.”






You must be logged in to post a comment.