Inwoners van Stellenbosch het ook hul insette gelewer toe die KWDM se Burgemeester-Maandae-sessies in die Eikestad ’n draai gemaak het.


Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se Burgemeester-Maandae-sessies, wat deel van die organisasie se openbaredeelnameproses is, is afgehandel.

Die sessies is in September en Oktober in elk van die plaaslike munisipaliteite gehou, insluitend Stellenbosch. Dit het ’n platform vir openlike en robuuste gesprekke met geregistreerde ondernemings, nie-regeringsorganisasies en gemeenskapsorganisasies gebied.

Elke sessie is goed bygewoon en verskeie aktuele kwessies het na vore gekom. Deelnemers het belangstelling getoon in aspekte soos hoe om as verskaffers van die KWDM te registreer, hoe om finansiering vir hul ondernemings en organisasies te bekom en hoe om munisipale gesondheidsdienste-sertifisering vir verskillende fasiliteite te versoek.

Verder is verskeie gemeenskaps-, maatskaplike, ekonomiese en gesondheidsveiligheidskwessies aan die distriksmunisipaliteit geopper.

Deelnemers aan die sessies kon direk met die lede gesels – die uitvoerende burgemeester, raadsheer (dr.) Elna von Schlicht, haar portefeuljelede en amptenare van die departemente van voorsieningskanaalbestuur, brandweerdienste, rampbestuur, munisipale gesondheidsdienste, plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, en landelike en maatskaplike ontwikkeling.

Burgemeester-Maandae het ook ’n geleentheid geskep vir die gemeenskap om met amptenare van die provinsialeregeringsdepartemente, soos gesondheid en welstand, gemeenskap en veiligheid, kultuursake en sport, en ekonomiese ontwikkeling en toerisme te skakel.

“Openbare deelname is een van die hoekstene van demokrasie,” het Von Schlicht gesê. “Hierdie persoonlike interaksies verseker dat die KWDM dienste lewer wat tot voordeel van die mense van ons distrik is.”

Dié wat die sessies gemis het, het steeds ’n geleentheid om ’n bydrae te lewer deur bekommernisse en insette oor die distriksmunisipaliteit se konsepbegroting vir die boekjaar 2025-’26 per e-pos te stuur na idp@capewinelands.gov.za. Openbare deelname duur tot einde Februarie 2025.

Insette word oorweeg vir die begroting wat aan verskeie projekte toegeken word. Vervolgens, in Maart /April 2025, sal die konsepbegroting ’n verdere openbaredeelnameproses ondergaan om te verseker dat daar voldoen word aan die behoeftes wat tydens die aanvanklike proses deur gemeenskapsverteenwoordigers beklemtoon is.

Gedurende hierdie tydperk samel die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se span bykomende openbare insette en oorwegings in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article