Joernaliste van reg oor die vasteland en die wêreld het verlede week in die Eikestad vir die Africa Media Perspectives- (AMP) konferensie byeengekom.
Die AMP het in 2023 as ‘n gesprek tussen die Food For Mzansi Group, Media Hack en Media Development Investment Fund tot stand gekom, met ‘n fokus op ondersteuning aan onafhanklike media in Afrika.
Benewens die inlingtingsessies en dinkskrums is verskeie paneelgesprekke oor wat vir die media-landskap en joernaliste voorlê, gehou. Kunsmatige Intellegensie (KI) en hoe dit die versameling, aanbieding en gebruik van media raak, is op een sessie bespreek.
Die paneel was Houssem Hajlaoui, ‘n medestigter van die Inkyfada-mediagroep; Alet Law, hoof van leesmark-ontwikkeling by Daily Mave-rick, en Rokaya Kamel, KI- en tegniese inhoudkoördineerder by Raseef22, ‘n mediaplatform in Lebanon.
Volgens Hajlaoui moet almal – veral joernaliste – aanvaar dat KI nie aan die kom is nie, maar eerder reeds hier is en nie geïgnoreer kan word nie. “Daar is twee groot KI- verwante kwessies waarmee ons worstel. Die eerste is hoe KI ons benadering tot ons werk sal verander, maar ook hoe ons oor KI sal berig en dit vir diegene wat ons dien, verstaanbaar maak. Hoe ons oor KI, veral in Afrika, berig met ‘n Afrika-aanslag, sal ons moet deurdink,” meen hy.
Ten spyte van die onsekerheid van hoe presies KI die media-landskap sal verander, meen Law en haar kollegas nuuskantore sal aanpas en leer om KI aan te wend om inligting op nuwe en interessante maniere met die publiek te deel.
“Wat anders is van die KI-ontwrigting as destyds, met die veranderinge wat sosiale media teweeggebring het, het ons [in Afrika] die voordeel gehad om te sien hoe dit nuuskantore in eerstewêreldse lande beïnvloed. Ons kon sien wat kom en ons kon uit van die gevalle leer en gereed maak daarvoor, maar met KI is die ontwrigting byna dieselfde vir ons almal.
“Dit bied egter struikelblokke sowel as geleenthede. Ek dink ons sien wêreldwyd grootliks dieselfde neigings en die tradisionele maniere waarop ons gehore nuus gevind het, het op sy kop gedraai,” verduidelik Law.

Kamel en Raseef22 het reeds begin om die geleenthede van KI te onwikkel nadat hulle besef het baie jongmense wat hul platform besoek, is op soek na inligting oor seksuele gesondheid.
Met die hulp van KI het Raseef22 ‘n advies “tantie” geskep wat geverifieerde, mediese gekwalifiseerde raad aan dié jongmense kan bied. Nou kan lesers hul vrae aan dié KI-bot stel.
“Ons het hard gewerk om te verseker hierdie ‘tannie’ klink en tree op soos ‘n Egiptiese tante waarmee lesers hulle kon vereenselwig. Ons moes programme skryf van hoe presies die ‘tannie’ sou optree wanneer sy byvoorbeeld met ‘n broerskind oor sy vrae praat. Dit was ook uiters belangrik dat die inligting wat die ‘tannie’ bied, akkuraat en goedgekeur is. Sy is toe so geskryf om te verseker sy verkry slegs haar antwoorde van ons eie databasis wat van betroubare bronne en goedkeurde organisasies verkry is,” sê Kamel.
Kamel verduidelik hoewel die “tannie” ‘n geautomatiseerde program is, was dit belangrik om nie die menslike element van die projek te verloor nie. Iemand moes tydens elke stap seker maak die program werk soos dit moet en al die nodig joernalistieke kontroles is nagegaan en beskikbaar.
Volgens Hajlaoui moet joernaliste nooit hierdie kontrole verontagsaam nie. “In een geval gebruik ons KI om verwante berigte uit ons databasis te haal. Een was ‘n eenvoudige vyfbladsy-artikel, en die idee was om ander verwante berigte rondom die kernpublikasie te hê. Ons het dit getoets, en in een geval was daar ‘n profiel oor ‘n politikus as die hoofartikel. KI het besluit een van die verwante artikels om voor te stel, is ‘n berig oor korrupsie.
“Daardie korrupsie het niks met die politikus te doen gehad nie. Nou sit ons dus met ‘n KI-besluit wat niks met die betrokke politikus te doen gehad het nie. Die KI was nie verkeerd nie en dit was eintlik ‘n slim besluit, maar om die twee berigte met mekaar te verbind, is ‘n redaksionele besluit. Sulke besluite is nie lukraak nie – dit is doelbewus deur KI.”
Hajlaoui sê egter die besluit om die twee berigte met mekaar te verbind, moes goed deurdink word – veral omdat lesers die verbintenis van korrupsie teen die poltikus kon maak.
Hy meen daarom sal KI nooit mense in die nuuskantoor vervang nie, omdat komplekse kontekstuele besluite steeds deur die redaksie geneem sal moet word.
• Die konferensie is in die Hofmeyrsaal deur Ivor Price en Kobus Louwrens, medestigters van Africa Media Perspectives, aangebied.






You must be logged in to post a comment.