Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar 25 jaar van kuns, kultuur, stories, smaak en vermaak met ‘n omvangryke program, winskopies en ‘n tema wat jou nooi om “deel” te neem en deel te wees.
Met byna 400 aanbiedings in 12 afdelings gaan gesing, gedans, gekyk, gekuier en sommer baie gedeel word. Die kaartjies lóóp en is aanlyn by Quicket te koop.
Die fees word van Saterdag 11 tot Sondag 19 Oktober tydens die ikoniese Stellenbosse lente aangebied. Bring jou kampstoel, kombers en kuiermense vir die Toyota-musiekfees se gewilde opelugkonserte by die Jan Marais-natuurreservaat. Die fees bring die vibe en die vibey na die ‘Bos met vertonings deur Will Linley, die Soweto String Quartet, Early B, Mandisi Dyantyis en Die Piesangskille.
AL DIE OPERAS, KORE EN AKKOORDE
Gehore word weer bederf deur topkore. Voces Cordis is terug met ‘n boeiende program onder leiding van André van der Merwe, wat ook die alombekende Universiteit Stellenbosch-koor dirigeer. Die Tygerberg-kinderkoor, Voices+ en lede van die Universiteit van Johannesburg-koor (Miracle Tree) tree ook vanjaar by die fees op.
Aurum Cantores vier Afrikaanse koorwerk met twee blinknuwe uitvoerings in Sing jou lied. Ander kore op die program is Cape Town Camerata, Overberg Women’s Choir (O fire of the Spirit) en die bekroonde Zolani-jeugkoor (New South African Gems).
OP DIE VERHOOG
Die Spier-toneelprogram sluit in die lang verwagte terugkeer van Breyten Breytenbach se Boklied onder regie van Marthinus Basson, Die ander dogter met Sandra Prinsloo, Liefde, Lafras met Antoinette Kellermann, die wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys vir teater, Huis van sand deur Dianne du Toit Albertze, sowel as die naaswenner, Die kabinet, deur André Gerber.
GRATIS EN PENSIOENAFSLAG
Die Woordfees wil almal deel maak van ‘n betekenisvolle en gedeelde ervaring met ‘n rits gratis- en afslagitems. Die Diskoersprogram is heeltemal gratis met ‘n mondvol gespreksreekse oor wetenskap, politiek, kuns, wyn en die groot honderd vir Afrikaans as amptelike taal.
Jaco van der Merwe bewys met sy uitstekende Filmfeesprogram – ook heeltemal gratis – daar is steeds behoefte om flieks op die grootskerm te sien. Die Clermont-Ferrand- internasionale kortfilmfees is die wêreld se grootste kortfilmfees – naas Cannes die grootste filmfees in Frankryk. En ‘n aantal wenners is gratis by die Woordfees te sien.
Pensioentrekkers van 65 jaar en ouer kry elke Dinsdag 10% afslag op ‘n lys uitgesoekte programitems. Besoek die fees se webtuiste vir nog besonderhede.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees bedank graag die volgende maatskappye en instellings, wie se volgehoue ondersteuning die fees moontlik maak: Het Jan Marais Nationale Fonds, Toyota, die Universiteit Stellenbosch, Netwerk24 en Spier-wynlandgoed – om maar net ‘n paar te noem.
• Besoek woordfees.co.za vir die volledige program en nadere inligting.





