Klapmuts: Motoriste gevra om kinders wat bedel nie kos te gee nie

Minderjariges op die sypaadjie by die Klapmuts-vierrigtingstop nadat die bestuurder van die County Fair-vragmotor vir hulle kos en ander kruideniersware gegee het. Foto: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Motoriste wat van die vierrigtingstop buite Klapmuts gebruik maak, word gewaarsku om nie die groep minderjariges wat by die verkeersligte bedel, te help nie.

Dit is die pleidooi van Veronica Galant, onder-voorsitter van die Klapmuts-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

“Ek weet dit klink wreed, maar motoriste moenie hulle [die minderjariges] voer nie. Dit maak hulle meer aggressief,” sê Galant.

Motoriste en Klapmuts-inwoners het die minderjariges reeds in November verlede jaar opgemerk toe een of twee kinders vir geld of voedsel by motoriste gepleit het.

Sedertdien het die aantal kinders toegeneem tot meer as sewe minderjariges wat daaglikse by motorvensters verskyn – op soek na iets om aan die lewe te bly.

Volgens Galant wissel die ouderdomme van die kinders van sewe tot 15 en sluit dit seuns en ’n enkele meisie in.

Sy sê baie van dié kinders kom uit Klapmuts en uit huise waar nie noodwendig albei ouers teenwoordig is nie, en dié wat wel is, alkohol of dwelms misbruik.

“Ons het al na die kinders gegaan om uit te vind van waar hulle kom en hoekom hulle hier is, maar dan spring die ouers uit die bosse en jaag ons weg,” sê Galant.

Volgens haar word sommige van die kinders se gedrag deur hul ouers aangemoedig, terwyl ander ouers nie bewus is daarvan nie.

“Twee van die kinders woon naby aan my, en ek het al vir een se ma gevra of sy weet dat haar kind by die verkeersligte bedel. Toe sê sy dat sy hom [haar seun] by die skool aflaai,” sê Galant.

Daar was glo onlangs voorvalle waar die minderjariges blykbaar gewelddadig teenoor motoriste opgetree en glo motordeure probeer oopmaak het. “Gelukkig was die motors gesluit,” sê Galant.

Ander voorvalle sluit in dat druiwe van trokke af gesteel word en dat die kinders voor die motors inhardloop en moontlik ’n ongeluk kon veroorsaak.

“Wat gaan gebeur as iemand per ongeluk een van hierdie kinders doodry? Daardie bestuurder kan dan met ’n saak van strafbare manslag teen hom of haar sit en tronk toe gaan vir iets wat nie sy of haar skuld was nie,” sê Galant.

“Die kinders wil weet hoekom hulle moet skool toe gaan as hulle niks kos het nie. Die meeste van hulle doen dit [bedel] omdat hulle honger is.”

Volgens haar moet die Klapmuts-gemeenskap saamwerk om hierdie minderjariges uit die strate te kry en is dit nie net die plaaslike polisie of maatskaplike werkers se verantwoordelikheid nie.

“Wat help dit die polisie neem hulle in hegtenis? Wat maak ’n mens [die Klapmuts-polisie] dan met hulle [die minderjariges]?” vra Galant.

Volgens haar moet buurtwagte, inwoners, die plaaslike polisie sowel as die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) saamwerk om die probleem hok te slaan.

Volgens Monique Mortlock, ’n woordvoerder van provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, is die departement nie bewus van minderjariges hy die Klapmuts-kruising nie en is geen vermelding by die plaaslike kantoor gemaak nie.

“[DSD]-personeel sal hierdie week ondersoek instel en ’n dringende intervensie-plan ná assesserings instel,” sê Mortlock.

Navrae is reeds Vrydag 23 Februarie per e-pos aan die Klapmuts-polisie gestuur, maar teen druktyd was geen terugvoer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article