Die drie topmatrikulante van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het elkeen ’n rekenaar ontvang. Agter, van links, is Milcah Visser, Melissa Müller en Lilly Hobbs. Voor is Noel Petersen (direkteur van die provinsiale onderwysdepartement), Henry Prins (KWDM- munisipale bestuurder), dr. Elna von Schlicht (uitvoerende burgemeester), raadslid Minnie Petersen en Pietie Williams (uitvoerende direkteur van gemeenskapsbeplanning).


Die Kaapse Wynland-distriks­munisipaliteit (KWDM) het dié streek se topmatrieks van 2023 by ’n spesiale geleentheid vereer.

Die jaarlikse KWDM-toppresteerders-toekenningseremonie is Maandagaand (5 Februarie) by die Rhenish Girls’ High School gehou en deur leerders van skole in die munisipale streke van Stellenbosch, Breedevallei, Langeberg, Drakenstein en Witzenberg bygewoon. Dr. Helena von Schlicht, die uitvoerende burgemeester van die KWDM, was ook by die geleentheid.

“Ons kom vandag hier bymekaar, nie net om akademiese prestasies te vier nie, maar om erkenning te gee aan die uitsonderlike reis wat elkeen van julle onderneem het,” het Von Schlicht gesê.

“As die toppresteerders van jul onderskeie skole het julle nie net uitstaande intelligensie getoon nie, maar ook ’n unieke stel eienskappe wat ongetwyfeld vorm aan die toekoms sal gee.

“Ons toppresteerders-toekenning­seremonie gee erkenning aan die merkwaardige prestasies van die hoogs presterende matrikulante by alle hoërskole in die distrik. Op hierdie aand vier ons hulle saam met hul ouers, onderwysers en skoolhoofde.”

Die spoggeleentheid vind elke jaar by ’n skool in een van die streke plaas.

“Dit is in die sterre geskryf dat die geleentheid die jaar [by Rhenish] plaasvind, aangesien die land se toppresteerder, Melissa Müller, hier skoolgegaan het,” het raadslid Minnie Petersen gesê.

Petersen is lid van die KWDM-bestuurskomitee vir maatskaplike ontwikkeling.

“Dit is baie belangrik om die leerders van die omgewing te vier, want ons wil hê dat jonger leerders dit sien en gemotiveer voel om na sukses te streef.”

Rhenish het ook die twee topmatrieks in die Kaapse Wynland vir 2023 opgelewer, met Müller en Lilly Hobbs wat die eerste twee plekke ingeneem het.

Milcah Visser van die Hoër Meisieskool Paarl deel die tweede plek met Hobbs. Albei het ’n gemiddelde van 96,43% opgelewer.

Die uitslae van die topmatrikulant van elke skool in die distrik is ook by die seremonie gevier en hulle het elk sertifikate, geskenkpakkies en R20 000 ontvang. Die geld sal, as deel van die burgemeester se studiehulpfonds, aan die instansie waar die voormalige matrikulante sal studeer, oorgedra word.

Verder was daar vanjaar ook ’n spesiale burgemeesterstoekenning vir ’n leerder wat, ten spyte van moeilike omstandighede, buitengewoon goed presteer het. Daar was altesaam drie nominasies en ’n paneel moes die leerder kies.

Leeroy Chakanyuka, die toppresteerder van die Hoërskool Franschhoek, het die spesiale toekenning vir mees veerkragtige leerder ontvang. Chakanyuka het uitdagings met taalhindernisse en aanpassing ervaar toe hy in sy vormingsjare tussen Zimbabwe en Suid-Afrika verhuis het.

Die ander burgemeesterstoekenning, die spesiale opvoeder-erkenning, is aan Clemence Thomas, vakhoof en hoofonderwyser vir natuurwetenskappe en tegnologie by die Laerskool Touwsrivier oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article