Leerders van die Hoërskool Stellenbosch het puik gevaar in die jaarlikse Poort-skryfkompetisie. Agter is Leonore Wessels, Anja van Rooyen, Isabella Eksteen, Bernardo Morkel, Freddy Carstens, Jean Retief en Amé Engelbrecht. Voor is Carla van Schalkwyk, Sarike Roeloffse en Christen Burger.


Leerders van die Hoërskool Stellenbosch het onlangs puik gevaar in die jaarlikse Poort-skryfkompetisie wat deur die Akademie van Wetenskap en Kuns aangebied word.

Inskrywings word beoordeel deur ’n paneel dosente en befaamde skrywers in die genres prosa en poësie.

“Om te publiseer in die Poort, of meer nog onder die toptien gelys te word, is geen geringe prestasie nie,” sê Eileen de Beer, ’n HS-woordvoerder, en voeg by menige bekende skrywer se eerste publikasie was in Poort.

Vanjaar spog Stellies met 25 inskrywings, waarvan 13 gepubliseer is, sowel as twee leerders wat die toptien-lys vir prosa gehaal het.

“Dis ’n uitsonderlike prestasie en beklemtoon die kreatiewe talent en intellektuele vernuf van ons leerders. Die pen is inderdaad magtiger as die swaard!” sê De Beer.

Die volgende leerders se skryfwerk is gekies om in die volgende uitgawe gepubliseer te word:

Gedigte

• Bernardo Morkel met “Oral”;

• Leonore Wessels met “Ons liefde is ’n wiskundesom”;

• Isabella Eksteen met “Ontmoeting”; en

• Kristen Burger met “ ’n Effense oorweldige gevoel”.

Prosa

• Amé Engelbrecht met “Breek uit die eierdop”;

• Isabella Eksteen met “Kyk na die son”;

• Jean Retief met “Tien, tien, nege”;

• Jean Retief met “ ’n Koeplet vir Pa”;

• Carla van Schalkwyk met “Stella, Ster”;

• Bernardo Morkel met “Wag”; en

• Anja van Rooyen met “Die grys, die tussenin en die reënboog”.

Freddy Carstens en Sarike Roeloffse is onder die tien toppresteerders in die Prosa-afdeling. “Voorwaar ’n uitstekende prestasie! Beide is uitgenooi om die jaarlikse Poort-skryfslypskool by die Universiteit van die Vrystaat op 10 en 11 Julie by te woon. Die slypskool word vanjaar deur die bekroonde jeugboekskrywer Fanie Viljoen en die bekroonde digter Lynthia Julius gelei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article