Die beplande nuwe private hospitaal vir die Paarl is ‘n goeie toevoeging tot die bestaande mediese fasiliteite in die dorp – veral met die Paarl wat so vinnig uitbrei.
Dit is die mening van Michiel Scharrighuisen, ‘n direkteur by die Giflo-groep. Dié maatskappy is bekend vir sy kundige handels- en mediese-eiendom-ontwikkelings. Hul spesialisafdeling, Giflo Medical, is die ontwikkelaar van die nuwe hospitaal asook die mede-eienaar saam met Fairwater.
Die nuwe hospitaal sal as die Paarl Valley Hospital bekendstaan. Die hospitaal sal deur die Life Healthcare-hospitaalgroep bestuur word en dit sal hul eerste hospitaal in 10 jaar wees. Scharrighuisen voeg by die hospitaal sal op die grond waar die Fraaigelegen-plaas langs die R301 (Wemmershoek-pad) was, gebou word.
“Ons is twee partye wat deel is van die nuwe hospitaal wat die eienaarskap en die eiendom betref. Dit is dus Giflo en Giflo Medical en dan het ons Fairwater as vennoot. Giflo Medical is ons ontwikkelingsmaatskappy van mediese eiendomme soos hospitale en dialise-
sentrums. Giflo Medical is ook betrokke op twee vlakke wat die nuwe hospitaal betref – dit is eienaarskap en die ander is om die hospitaal te ontwikkel.
“Die ontwikkeling van Paarl Valley behels dus die ontwikkeling-en-ontwikkeling-bestuursfunksie wat ons vervul. Dit is wyd en sluit die eerste interaksie met die hospitaalgroep in,” sê
Scharrighuisen.
“Daar is baie hospitaalgroepe en om uit te reik na hulle toe en die belangstelling te gaan soek, want so groot en so mooi soos wat die Paarl is, was dit nie net vir ‘n eerste oogopslag en al die hospitaalgroepe val oor hul voete nie. Dit was vir hulle ‘n baie groot besluit om betrokke te raak. Ons rol was dus om na die hospitaalgroepe uit te reik en die geleentheid aan hulle voor te lê en belangstellendes dan te oortuig.
“Oortuiging is nie net praat mooi woordjies nie. Dit gaan oor syfers, impakstudies en geografiese studies wat hulle wil sien. Hulle wil baie inligting hê, en dan wil hulle ontwerpe ensovoorts ook sien.
“Dit was dus ons taak om die regte ligging te gaan soek. Dan moet jy hulle oortuig oor die bevolkingsyfer en die behoefte. Dit was ook ons rol om uit te reik na dokters, spesialiste en verpleegmense en te sê hier is die dokters wat die
hospitaal sal ondersteun.
“Ons rol sluit verder ook in om die planne in oorleg met Drakenstein goed te keur. Dit is waar ons nou is. Die volgende stap is met ons konsultantespan om bouplanne by die Drakenstein-munisipaliteit goedgekeur te kry en eers wanneer ons dit het, kan ons na bou-ondernemings uitreik. Ons doen nie self die bouwerk nie – ons is die ontwikkelaars. Ons doen alles tot en met die bouwerk. Ons bestuur die hele proses totdat die geel masjiene op die terrein is.”
Bouwerk is gereed om op 1 November
te begin en sal na verwagting op 31 Mei 2027 voltooi wees.
Volgens Scharrighuisen sal Paarl Valley se gebou 13 621m² groot wees met altesaam 140 beddens.
Dié hospitaal sal met verskeie afde-
lings pronk, waaronder ‘n kraameenheid, ‘n pediatriese afdeling, ‘n pediatriese waaksaal, ‘n kardiologieteater vir hartchirurgie en ‘n ongevalle-eenheid. Die nuwe hospitaal sal ook ‘n paar eerstes vir die Paarl bied, soos ‘n neonatale waakeenheid vir pasgebore babas. Die hospitaal sal ook met konsultasiekamers en ses teaters pronk – waarvan een net vir kardiologie sal wees.
Die hospitaal is naby die N1-hoofweg. Indien ‘n ongeluk gebeur, sal dit nie te ver wees om pasiënte te vervoer nie.
“Paarl Valley word nie gebou om o by die bestaande twee hospitale in die dorp or te neem nie, maar eerder om dit aan te vul,” sê Scharrighuisen.
“Die Paarl-provinsiale hospitaal is in die middedorp, Mediclinic Paarl in die noorde van die dorp en nou kom Paarl Valley in die suide van die dorp, en dit bring ‘n goeie balans.”
Op ekonomiese vlak gaan Paarl Valley ook ‘n groot uitwerking op die dorp hê. Scharrighuisen meen dit gaan geweldig tot werkskepping in die gebied bydra. Hy is van mening dat dit ook eiendoms-
waardes in die 10-km-radius van Paarl Valley sal beïnvloed.
“Tydens die 18 maande boutydperk gaan ongeveer 120 werksgeleenthede geskep word. Plaaslike konstruksiefirmas asook kontrakteurs soos loodgieters, elektrisiëns en skrynwerkers en ander sal ook benodig word.
“Wanneer die hospitaal uiteindelik aan die gang is, sal dit werk vir meer as 60 dokters en spesialiste, ongeveer 600 verpleegpersoneel, skoonmaakpersoneel, voedseldienste en linnedienste skep.”
Scharrighuisen sê die hospitaal sal inwoners so ver as Moorreesburg, Porterville en Piketberg bedien.







You must be logged in to post a comment.