Inwoners van Kreefgat in Idasvallei het Woensdag (18 Maart) vir die Stellenbosch-munisipaliteit gesê om hul goed te vat en te loop.
Dit kom nadat beamptes van die plaaslike munisipaliteit met boumateriaal op die oop stuk grond aan die einde van Newmanstraat noodbehuising wou oprig.
Beamptes het glo net na 12:00 saam met munisipale wetstoepassers opgedaag, maar nabye inwoners het onmiddellik ‘n stokkie voor die planne gesteek.
Inwoners wat met Eikestadnuus gesels het sê hulle het alle simpatie met die gesinne wat vroeër uit hul huurhuise moes trek, maar om dié gesinne op die veld te akkommodeer is nie aanvaarbaar nie.
LEES OOK: Noodbehuising deur inwoners van Jamestown gefnuik
Stellenbosch-munisipaliteit het vroeër die dag ‘n video op sosiale media geplaas waarin burgemeester Jeremy Fasser besoek aflê by ‘n gesin wat deur die balju uit ‘n huurhuis gesit is. Die uitsetting was uitgevoer in ooreenstemming met ‘n hofbevel, verduidelik Fasser, en die munisipaliteit werk om alternatiewe akkommodasie vir die gesin te identifiseer.
Idasvalleiers was dit egter eens dat die akkommodasie nie in hul buurt opgerig sou word nie. Bradley Smith, wat langs die grond woon, wou weet waar die gesinne hul water vandaan sou kry en waar die gesinne van hul riool sou ontslae raak gesien daar geen dienste op die grond is nie. “Bou liewer ‘n speelparkie vir ons kinders,” sê Smith. “Die veldjie word as ‘n deurpad gebruik, hoekom teer hulle nie liewer die pad nie? Jy kan nie mense kom neer sit op ‘n stuk grond wat nie eers ‘n kraan het nie.”

Die situasie het geëskaleer nadat wetstoepassers die skare uitmekaar wou dryf. Rubberkoeëls is geskiet met een vrou wat in die hand getref is. Sy is later op die toneel deur mediese personeel gehelp.
Volgens Lorraine Hannekom, ‘n gemeenskapslid, was daar geen kommunikasie met die gemeenskap oor die planne om noodbehuising op te rig nie. “Daar was geen kennisgewing van die munisipaliteit oor hulle plan om die mense hier te kom sit nie. Die burgemeester [Jeremy Fasser] moes ons minstens kom toespreek het en verduidelik dat hierdie gesinne nou hier gaan kom woon,” meen sy.
Inwoners kon nie sê hoeveel wendyhuise opgerig sou word nie, maar hulle is glo gesê ses gesinne sou intrek.
Marius van Stade, proporsionele raadslid vir Good, sê hoewel daar planne is om amptelik grond vir noodbehuising in die munisipale gebied te identifiseer, het dit nog nie gebeur nie. Tydens November verlede jaar se munisipale raadsvergadering ‘n item, “Informal settlements, evictions, and proposed temporary relocation to Jamestown Mountain View”, onttrek. Hierdie item sou onder meer oor noodbehuising handel.

Van Stade sê daar is verskeie voorskrifte waaraan ‘ngebied moet voldoen voor ‘n munisipaliteit dit vir noodbehuising kan benut. “Indien die situasie bestaan waar noodbehuising gebied moet word, moet mense met waardigheid en respek hanteer word. Daar is ‘n prosedure wat gevolg moet word en deel daarvan is om vooraf met die gemeenskap te praat waar die noodbehuising opgerig sal word,” verduidelik hy.
Munisipaliteite is verantwoordelik om noodbehuising aan inwoners te bied indien hulle deur middel van uitsettingbevellle, wat deur ‘n hofbekragtig is, of ‘n ramp hul blyplek verloor.
Eikestadnuus het na die Stellenbosch-munisipalieit uitgereik vir kommentaar. Hierdie kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word





You must be logged in to post a comment.