‘n Stellenbosse begrafnisondernemer beweer die Stellenbosch-munisipali- teit ontneem hom van sy “brood en botter” nadat hy glo in kennis gestel is hy mag nie begrafnisse behartig alvorens hy vir ‘n munisipale diens, waarvoor hy blykbaar nie gevra het nie, betaal nie.
Hayward Pietersen van Divine Funerals was Saterdag 5 Julie by die Jamestown-begraafplaas besig met voorbereidings vir ‘n teraardestelling.
“Op versoek van die familie en om kostes te bespaar het ek aan die munisipale werkers by die begraafplaas verduidelik ons is self verantwoordelik vir die grawe van die gat. Die plek wat aan ons uitgewys is, was baie naby aan ‘n ander graf, maar ons het voortgegaan,” het Pietersen verduidelik.
Tydens die uitdelf van sand vir die graf het die kante van die gat egter ingestort. Pietersen sê werkers by die begraafplaas het hom aangesê om eenkant toe te staan, waarna hulle self die gat met ‘n masjien gegrawe het.
Dié diens was juis wat die familie nie wou hê nie, aangesien hulle nie die R300 daarvoor kon betaal nie.
Pietersen sê nou hou die munisipaliteit Divine Funerals vir dié koste verantwoordelik. Hy voer egter aan hy is nie van plan om te betaal vir ‘n diens waarvoor hy nie gevra het nie.
Pietersen verduidelik nadat die graf aanvanklik ingeval het, was sy werkers gereed om die gat weer te grawe.
By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, gesê munisipale werkers was weens die toestand van die grond genoodsaak om die gat self te grawe.
“Mnr. Pietersen is reeds Woensdag in kennis gestel van die uitdagings wat die munisipaliteit gedurende die wintermaande met grafvoorbereiding ervaar – veral weens swaar reënval. Nieteenstaande hierdie waarskuwing het hy aangedring om self die graf te grawe – ‘n opsie wat families het om koste te bespaar. In sulke gevalle neem die munisipaliteit nie verantwoordelikheid vir die voorbereiding van grafte nie.
“Teen Saterdagoggend het ons personeel egter opgemerk dat die betrokke graf ingeval het as gevolg van die week se aanhoudende swaar reën. Indien die munisipaliteit nie onmiddellik ingegryp het nie, sou die graf nie betyds gereed wees vir die begrafnis nie, wat ook vertragings vir die daaropvolgende begrafnisse sou veroorsaak. Aangesien elke begrafnis ‘n voorafbepaalde tydgleuf het, kon sulke vertragings ‘n ernstige uitwerking op die dag se program hê,” het Grobbelaar gesê
Hy voer aan dit was daarom nodig dat die munisipale werkers drigend intree om die graf gereed te kry.
Pietersen is glo deur die munisipaliteit verbied om enige verdere begrafnisdienste by begraafplase te behartig totdat hy die R300 betaal het.
Grobbelaar het nie bevestig of Divine Funerals mag voortgaan met werk by plaaslike begraafplase nie. Hy het wel gesê die “addisionele kostes” van die “onvoorsiene werk” beteken Pietersen word versoek om die geld op te dok.
Pietersen sê intussen hy het verskeie kere by die Jamestown-begraafplaas opgedaag, maar is toegang geweier. Geen korrespondensie of bewyse is gelewer nadat hy munisipale werkers gevra het om bewys te lewer dat hy nie begrafnisdienste mag lewer nie.
Grobbelaar het op sy beurt gesê ná die herrie oor die graf se grawe verlede maand het die munisipaliteit besluit die self-grawe van grafte sal nie meer gedurende nat weer toegelaat word nie.
“Dit is om soortgelyke probleme in die toekoms te voorkom, aangesien die munisipaliteit oor die nodige kapasi- teit beskik om vinnig en betyds op te tree – iets wat nie altyd vir families of ondernemers moontlik is nie – veral nie gedurende gure weersomstandighede en storms nie,” het Grobbelaar aangevoer.
Pietersen meen dit is nie hy en sy kollegas wat weens die munisipaliteit se besluite ly nie – dit is families in rou.
“Die munisipaliteit kom my nie te na nie, hy kom families te na – die Stellenbosch-gemeenskap. Dit is asof ons ondernemers bang moet wees vir die munisipaliteit, want hulle dink die begraafplaas behoort aan hulle. Die munisipaliteit moet my aanvat indien daar ‘n probleem is, nie families wat net hul geliefde te ruste wil lê nie,” sê Pietersen.





