Die Hoërskool Stellenbosch se rasieleiers is onlangs as die nasionale kampioene by nasionale rasieleier-kompetisie aangewys.
Die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap vir rasieleiers het op Donderdag 3 Julie in Oudtshoorn begin met spanne van laerskole, hoërskole en tersiêre instansies van oor die land heen wat deelgeneem het.
Volgens Odelia Krige, die kaptein van die Hoërskool Stellenbosch se rasieleiers, het die prestasie om as die beste in die land gekroon te word, nie oornag gebeur nie.
Die span se goue medalje spreek van maande se harde werk, opofferings en ekstra oefening. Die Stellenbosch-rasieleiers het ‘n vyfde plek in die High Hip Hop Double-afdeling verower asook ‘n tweede plek in die High Level 3 All Girl-afdeling.
Die plaaslike rasieleiers het op Saterdag 5 Julie in die mededingende High Level 4 Co-ed-afdeling deelgeneem en is danksy hul skitterende roetine as die kampioene aangewys.
Die span se uitslae is ‘n verbetering teenoor verlede jaar se kompetisie waar die meisiespan die derde plek behaal en die gemengde span in die tweede plek geëindig het.
Dit is egter nie net die rasieleiers se harde werk en toewyding wat tot die skool se sukses gelei het nie en die afrigters Lisa Parrock, Jeanina van der Westhuizen en Elmarie Grobbelaar is vir hul bydraes uitgesonder.
‘n Paar van die rasieleiers het ook die Wes-Kaap verteenwoordig, waar hulle nog ‘n goue medalje verower het.







You must be logged in to post a comment.