Die klubrugbyseisoen van die Westelike Provinsie-rugbyunie is byna agter die rug nadat die wenners van die Superligas aangekondig is.
Vir Stellenbosch en omgewing was Saterdag (28 September) se wedstryd tussen Stellenbosch Coronations en Raithby Universals ’n naelbyter om die Challenger-beker, wat Corries met 18-11 gewen het.
Raithby se derde span het Elsiesrivier net-net 15-14 geklop en is die nuwe WP-kampioen.
In die promosie-relegasiekompetisie het Blue Stars van Klapmuts uit die bus geval nadat hy die grootste deel van die seisoen die botoon gevier het. Blue Stars het nie die halfeindstryd gehaal nie en sal dus weer volgende jaar in die soneliga, of die begrafnisliga, speel.
Die vier topspanne is Violets, Delft, Watsonia en Caledonian Roses. Violets het ná Saterdag se oorwinning van 12-7 oor Sir Lowrians Superliga C-status verwerf.
Callies het Albions met 68-14 geklop, Delft het Young Wesleys met 8-0 geklop, en Watsonias vir Silvertree met 24-5. Soos sake nou staan, sal Van der Stel-Evergreens (VDE) en Maties in 2025 in Superliga A speel, terwyl Franschhoek en Kylemore weer sal probeer om uit Superliga B te vorder.
VDE het in die eindstryd om die wenner van Superliga B te bepaal, teen UWK vasgeval en UWK is as die kampioen gekroon.
Hamiltons is die Superliga A-kampioen nadat hy met Durbell afgereken het, terwyl Primrose die Superliga C-kampioen met sy oorwinning oor Macassar is.
Pniël Villagers is weer in aksie in Superliga C, terwyl Excelsior, Coronations, Raithby Universals en Blakes weer in die sones sal speel.
Alle oë is nou gevestig op die Score 7’s-toernooi wat binnekort afskop en spanne is reeds besig om vir die toernooi voor te berei.
St. George’s van Strand, ook bekend as die Lulu Boys, het vir die 2023-’24-seisoen in al die 7’s-toernooie waaraan hy deelgeneem het, skoonskip gemaak en is gewis die gunsteling in die Score 7’s.
St. George’s is ook een van die spanne wat volgende jaar met VDE en Maties in Superliga A sal kragte meet en het sedert hy in 2014 tot Superliga A gevorder het, onder die top-10 in die liga geëindig. Vanjaar het die Lulu Boys met al die universiteitspanne afgereken en met UWK en VDE, wat die nuwelinge is, word interessante stryde verwag.
Hopelik is Blakes se raadsaalprobleme nou verby en sal hy as ’n volwaardige klub in 2025 rekenskap van homself kan gee.
Blakes is een van die oudste klubs in Stellenbosch; net die Excelsior-klub is ouer as hy.





