Die bekroonde akteur Frank Opperman is vandeesweek as deel van die Toyota US Woordfees in Ek wens, ek wens by die Drostdy-teater te sien.


Die Drostdy-teater in Stellenbosch is weer eens een van vele venues wat vanjaar gasheer speel vir opvoerings wat deel van die Toyota US Woordfees is.

Tydens die gewilde wees, wat van Maandag 10 tot Sondag 16 Oktober duur, sal ’n reeks produksies op die planke van dié plaaslike teater wees. En ietsie vir almal sal te sien wees . . .

Iewers in die grys: Maandag 10 Oktober 10:00; Woensdag 12 Oktober 13:00; Sondag 16 Oktober 16:00 – Heather en Gideon is beste skoolvriende en het groot drome vir die toekoms. Hulle wil medies swot, maar geheime en vooroordeel word skielik struikelblokke. Hulle is skoolvriende met groot drome, maar hoe word drome lewendig gehou in ’n land waar onreg en geregtigheid so na aan mekaar is? En wat gebeur wanneer hulle groot word en vergeet om na die sterre te kyk?

Die heks van Hexriviervallei: Dinsdag 11 Oktober 20:30 en Vrydag 14 Oktober 16:00 – Marcia Moon sing oor die spoke en mites van Afrika en Suid-Afrika. Die “fantacy folk”-liedjieskrywer en sanger skep deur middel van haar liedjies magiese beelde wat legendariese karakters soos Die heks van Hexriviervallei laat lewe. Marcia besoek ook geheimsinnige Afrika-verhale soos Ingrid Jonker se gedig “Toemaar die donker man”, wat deur Laurika Rauch gesing word, en “Ek is bang”, die temaliedjie vir die reeks Sien jy nou? deur Clarabelle van Niekerk.

Onder woorde: Maandag 10 Oktober 13:00; Dinsdag 11 Oktober 10:00; Sondag 16 Oktober 19:30 – ’n Groep talentvolle kunstenaars – Frieda van den Heever, Nic de Jager, Deon Meiring, Willem de Swyger en Karla van der Colff – deel ’n liefde vir woorde en musiek asook ’n bekoring vir sin maak van menswees. Hulle vang die kern van die lewe vas deur middel van hul passievolle vertonings. Families, kos, verlies, ons land, sy mense, die see, seisoene, drome, hartseer en hoop – en menige keer ook die liefde . . . Hulle streef daarna om sin te maak van die lewe.

Ek wens, ek wens: Woensdag 12 Oktober 10:00; Donderdag 13 Oktober 20:00; Vrydag 14 Oktober 10:00; Saterdag 15 Oktober 20:30; Sondag 16 Oktober 10:00 – Seb (Frank Opperman) is ’n begrafnisondernemer met ’n vaal en eenvoudige lewe. Sy lewe bestaan uit roetine en klein goedjies. Hy sien nie meer die wonder en grootheid van die lewe nie, totdat hy ’n engelagtige seun, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge dwing Seb om te vra: As ek net een wens het, waarvoor sou ek wens?

Wilken Calitz: Mozart tot Metallica: Maandag 10 Oktober 21:00 en Vrydag 14 Oktober 13:00 – Met ’n akoestiese kitaar en viool neem Wilken die gehoor op ’n virtuoso-musiekreis – van klassiek tot heavy metal. In dié konsert speel hy sy eie musiekverwerkings van gewilde komposisies soos “Rondo Alla Turca”, “Nothing else matters”, “Por una Cabeza” en werke deur Bach, Villa-Lobos en ander.

Liefde in die wingerd: Woensdag 12 Oktober 16:30 en Donderdag 13 Oktober 13:00 – Koos van der Merwe se produksie is akoesties afgerond en het lae, soos goeie wyn. Die konsert is ’n dromerige, insigvol reis na die lig en donker van die liefde. Van der Merwe se nuwe melodieë en lirieke sal mense met ’n passie vir woorde en die mooiheid wat taal kan oproep, aangryp. Afrikaans en die liefde is seldsaam so mooi saamgesmelt.

Femme is Fatale: Dinsdag 11 Oktober 13:00 en Woensdag 12 Oktober 20:00 – Elzabé Zietsman is in hierdie nuwe kabaret, wat spesiaal vir haar geskryf is, te sien. Die produksie plaas geslagsgeweld in die kollig. Is daar ’n oplossing vir dié epidemie? Zietsman en Tony Bentel probeer hierdie vrae deur stories en liedjies antwoord.

Hans steek die Rubicon oor: Donderdag 13 Oktober 10:00; Vrydag 14 Oktober 20:00; Saterdag 15 Oktober 10:00; Sondag 16 Oktober 13:00 – Op 90 is Hans nog springlewendig, maar sy kinders plaas om in ’n tehuis, Huis Madeliefie. Sy vernuftige pogings om te ontsnap word gereeld deur sy kinders en ’n drakoniese matrone in die wiele gery. Maar Hans is nie ’n man wat die handdoek ingooi nie. En dan is daar sy nuwe (soms verdagte) “vriende”, daggakoekies, die plaaslike mafia, eksotiese dansers en protesaksie. Die komedie oor oudword op jou eie terme is gegrond op die topverkoperboek met dieselfde naam, deur Rudie van Rensburg.

Skoonveld: Dinsdag 11 Oktober 18:30 en Saterdag 15 Oktober 13:00 – Die stemkunstenaar, liedjieskrywer en musikant Frieda Kruger span kragte saam met van Suid-Afrika se mees begaafde musikante en vervleg haar liedjies oor lag, huil, verlange, verlies, ekstase en die lewe ná die dood met gedigte en stories wat die gehoor op ’n reis na ’n bekende plek sal neem. Die musikante (stem en klavier) wat die verhoog met Kruger deel, is Schalk van der Merwe (baskitaar), Frank Freeman (elektriese en akoestiese kitaar), Annemie Nel (tromme en perkussie) en Marina Louw (altviool).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article