Hoewel die Stellenbosch-munisipaliteit verlede week bevestig het daar is genoeg water vir die munisipale gebied, maan die munisipaliteit inwoners om spaarsamig met water te werk.
Volgens die Wes-Kaap se jongste damvlakke, wat die afgelope Maandag (9 Februarie) bekendgemaak is, is die provinsie se ses hoofdamme gesamentlike 58,3% vol. Dit teenoor die 78,3%-kapasiteit wat dit verlede jaar dieselfde tyd gehad het.
Kommer dat die plaaslike munisipale gebied nie genoeg water vir die komende maande sal hê nie, is verlede week aangevuur deur ‘n artikel in The Cape Independant wat beweer die munisipaliteit het tussen sewe en 40 dae se waterreserves oor. In hul skrywe in reaksie hierop het die munisipaliteit hierdie bewering ten sterkste ontken.
“Die munisipaliteit wil inwoners verseker dat daar tans geen Dag Zero-scenario is nie en dat geen waterbeperkings tans in plek is nie. Soos op 29 Januarie gekommunikeer, gaan ons die watervlakke daagliks na om te verseker dat ons betyds met waterbeperkings sal begin om voldoende watervoorraad te verseker, indien nodig,” lui die munisipaliteit se verklaring.

Stellenbosch ontvang water van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel (WCWSS), wat die damme Theewaterskloof, Bergrivier, Bo Steenbras, Laer Steenbras, Wemmershoek en Voëlvlei insluit. Hierdie stelsel word deur die Stad Kaapstad bestuur.
Plaaslik het die Stellenbosch-munisipaliteit verlede maand (Donderdag 29 Januarie) watergebruikers gemaan om spaarsamig met water te werk weens die deurlopende druk wat op waterbronne geplaas is ná weke van veldbrande in en om die munisipale gebied.
Volgens die munisipaliteit is onverwerkte water uit die Idasvallei-damme gebruik om brande in die plaaslike, Overberg- en die Kaapse Wynlande- munisipale gebiede te blus.
Die eerste van die groot brande het reeds op 7 Janaurie in Wemmershoek uitgebreek. Verskeie ander brande het sedertdien uitgebreek en is geblus, met meer as ‘n beraamde 17 000 hektar grond wat in die slag gebly het.
Die munisipaliteit voer aan watervlakke van die munisipale gebied word daagliks nagegaan en maatreëls word in plek gesit, soos nodig.
“Die munisipaliteit produseer steeds voldoende drinkwater deur die Paradyskloof-waterbehandelingswerk, wat uit die Theewaterskloofdam gevoed word. Die voorsiening is verder geoptimaliseer deur operasionele aanpassings, insluitend verhoogde pompwerk na sleutelreservoirs, aktivering van bykomende infrastruktuur, dringende lekherstelwerk en die herinbedryfstelling van boorgate wat voorheen tydens die 2018-droogte gebruik is om die voorsiening aan te vul.”
Die afgelope Dinsdag (10 Febuarie) het die Kaapse metro gesê watertoevoer na die Blackheath- en Faure-waterbehandelingswerke is in die nag onderbreek.
By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, bevestig hierdie gebrek in toe- voer uit die Theewaterskloof-dam het ook die Paradyskloof-waterwerk geraak, maar die probleem is teen 08:30 Dinsdag opgeklaar, met water wat weer van die dam na die plaaslike waterwerke gevloei het.
“Die munisipaliteit bly in voortdurende samewerking met die Stad Kaapstad, die provinsiale regering en die nasionale departement van water en sanitasie om die situasie te monitor en enige toekom- stige maatreëls te bepaal, sou toestande verander,” sê Grobbelaar.
Waterwys-wenke
- Draai krane toe wanneer dit nie gebruik word nie, ook tydens tande borsel of skottelgoed was.
- Herstel lekkende krane en pype dadelik.
- Gebruik wasmasjiene en skottelgoedwassers slegs met vol vragte.
- Hergebruik gryswater buite, soos in tuine en op grasperke. Gebruik omgewingsvriendelike seep en skoonmaakmiddels wanneer gryswater hergebruik word.
- Lei tuine vroeg in die oggend of laat in die aand nat om verdamping te verminder. Besproeiing moet gedoen word met boorgatwater of nie-drinkwater. Dit geld vir tuine, grasperke, blombeddings en ander plante, groentetuine, sportvelde, parke en ander oop ruimtes.
- Alle eiendomme waar alternatiewe, nie-drinkbare waterbronne gebruik word (bv. reënwater-insameling, gryswater, behandelde afvalwater en boorgate), moet verseker dat hulle toepaslike tekens vertoon wat duidelik sigbaar is van ‘n openbare deurgang.
- Vermy die was of afspuit van harde oppervlakke of geplaveide dele met munisipale water (behalwe vir gesondheidsdoeleindes).
Waterlekkasies en probleme kan op die Stellenbosch-munisipaliteit se Let’s Fix It WhatsApp-diens by 076 951 0768 aangemeld word. Alternatiewelik, skakel 021 808 8215, 021 808 8343, 021 808 8957, 021 808 8953 of 021 808 8106.




You must be logged in to post a comment.