‘n “Pastoor” (55) van Franschhoek, wat glo pornografiese materiaal met twee minderjarige meisies vervaardig het, se borgtogaansoek is tot Vrydag 5 September uitgestel nadat hy die afgelope Dinsdag (26 Augustus) van prokureur verander het.
Hy het die tweede keer in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hy op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek op aanklagte van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie in hegtenis geneem is.

‘n Groep Groendal-inwoners het Dinsdag vreedsaam by die hof betoog en gevra dat hy nie borgtog toegestaan word nie.
Die staat wou borgtog teenstaan omdat die vermeende slagoffers dié man vertrou het en weens die feit dat hy in 2017 aan ‘n soortgelyke oortreding skuldig bevind is. Hy het ook nog nie gepleit nie.
Sy inhegtenisneming hou verband met video’s wat vroeër vanjaar aanlyn versprei is en waarin hy glo seksueel met twee tienermeisies verkeer.
Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.
Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade (SECI) het Saterdag (16 Augustus) op sy selfoon beslag gelê om die inhoud daarvan te ondersoek.
Die groep inwoners buite die hof het ‘n petisie begin, wat 543 handtekeninge ingewin het waarin hulle onder meer eis dat hy nie op borgtog vrygelaat word nie. Die petisie is aan die ondersoekbeampte van die saak oorhandig.
“Sy vrylating gaan getuies en die slagoffers beïnvloed. Ons glo nog ander slagoffers sal na vore kom,” het Eddie Cloete, ‘n gemeenskapsleier en aktivis, buite die hof gesê.
Die beskuldigde is in 2017 aan statutêre verkragting skuldig bevind en het toe ‘n opgeskorte vonnis ontvang.






You must be logged in to post a comment.