Dit is met diepe hartseer dat familie en vriende van Wolfgang Heuer, ‘n bekende en geliefde figuur in die Suid-Afrikaanse musiekgemeenskap, afskeid neem.
Heuer is Vrydag 5 September ná ‘n tydperk van siekte in Kleinmond oorlede.
Hy was die eienaar en dryfkrag agter die bekende Musikhaus W. Heuer in Stellenbosch.
Dié musiekwinkel, deesdae bekend as Heuer Pianos, is in die historiese Dorpstraat geleë en het deur die jare sinoniem geword met gehalte, vakmanskap en ‘n liefde vir die musiekkuns.
Onder Heuer se leiding is nie net instrumente daar verkoop en herstel nie, maar die winkel het ook as ‘n kulturele spilpunt gedien waar musici, studente en musiekliefhebbers bymekaargekom het.

Heuer is in 1949 in Duitsland gebore en hy en sy ouers het hulle later in Suid-Afrika gevestig, waar hy ‘n onuitwisbare indruk op die plaaslike musiektoneel gemaak het.
Sy passie vir klassieke musiek en toewyding aan gehalte het van hom ‘n gerespekteerde naam in musiekkringe gemaak. Klaviere wat uit sy winkel gekom het, is in konsertsale, kerke, skole en huise aangetref.
Vriende en familie beskryf hom as ‘n unieke en sosiale mens, met ‘n diep liefde vir die mooi in die lewe. Die Suid-Afrikaanse musiekwêreld is aansienlik ryker danksy sy bydrae.
Die musiekman word oorleef deur sy eggenote, Quarta, hul kinders Helga, Walter en Inge en hul kleinkinders.
• ’n Gedenkdiens word Dinsdag 30 September by die Kleinmond NG kerk gehou.






You must be logged in to post a comment.