Die Pniël Villagers-rugbyklub bied die naweek van Saterdag 7 Februarie die eerste Dwarsriviervallei-7's-toernooi aan.
Die Pniël Villagers-rugbyklub bied die naweek van Saterdag 7 Februarie die eerste Dwarsriviervallei-7’s-toernooi aan.

Avril Fillies

Die Pniël Villagers-rugbyklub bied die naweek van Saterdag 7 Februarie die eerste Dwarsriviervallei-7’s-toernooi aan en sal ook die legendes deur die jare vir hul bydrae tot rugby in dié gebied vereer.

“Die 7’s-toernooi sal bekendstaan as die Rhodes Dwarsriviervallei-7’s en is die eerste van sy soort,” sê Winston Stubbes, die voorsitter van die rugbyklub.

“Spanne van Stellenbosch en Pniël sal deelneem en dit word op die [plaaslike] sportterrein gehou. Die vereering van oudspelers en -administrateurs, ongeag hul affiliasie in die apartheidsjare, is om hulle te bedank vir hul bydrae tot die ontwikkeling van rugby in die omgewing.

“Ons wil erkenning gee vir hul waardes, erfenis, tradisies en suksesse.”

Hy sê die inisiatief is daarop gemik om alle rugbyklubs van die breër Dwarsriviervallei saam te bring in ‘n fees van gemeenskapsrugby en sportgees.

“Ons sien hierdie toernooi as ‘n mylpaal vir rugby in die vallei. Dit sal ‘n unieke geleentheid wees waar elke klub sy talent kan wys en die gemeenskap bymekaar bring soos nog nooit tevore nie,” sê Stubbs.

Die Dwarsriviervallei-7’s-toernooi sal al die rugbyklubs van die vallei insluit – Kylemore, Lanquedoc, Simondium, La Motte, Meerlust, Klapmuts, Stellenbosch, Franschhoek en Wemmershoek.

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis van rugby in die streek wees dat hierdie gemeenskappe saam op dieselfde speelveld meeding.

Stubbs benadruk verder dat die inisiatief daarop gemik is om eenheid, trots en sport- ontwikkeling in die Dwarsriviervallei te bevorder.

Die toernooi beloof om ‘n jaarlikse hoogtepunt op die plaaslike sportkalender te word. Die program sal later bekend gemaak word.

• Skakel Lisa Myburgh by 062 293 2869 of Winston Stubbs by 071 567 1273 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article