Die Wemmershoekdam.Foto: Argief


Die munisipale bestuurder van die Drakenstein-munisipaliteit, Johan Leibbrandt, het verlede Vrydag (29 September) op die jongste raadsvergadering gesê die oorstromings in Franschhoek sou minder ernstig gewees het indien korrekte bestuur by die Wemmershoek-dam toegepas is.

Volgens Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die munisipaliteit, het die Bergrivier se opvangsgebied twee hooftoevoerdamme, naamlik die Wemmershoek- en Bergrivierdamme.

Albei damme word deur die departement van water en sanitasie (DWS) en die Stad Kaapstad bestuur en hulle werk ook saam met die Drakenstein-munisipaliteit om oorstromings tydens swaar reën te voorkom deur “oorvloei te optimaliseer”, het Pienaar gesê.

“Ná Junie vanjaar se swaar reën en vloedskade in Drakenstein het Leibbrandt formeel aan die DWS geskryf en gevra dat operasionele reëls rakende die loslaat van water só aangepas moet word dat die water in vooraf beheerde volumes losgelaat word vóórdat die damme oorloop,” het Pienaar beklemtoon.

Drakenstein het ook tydens Erfenisnaweek, toe nog reën met mening uitgesak het, ’n versoek aan die DWS gerig.

“Hoewel dit [die formele navraag] verligting gebring het, is die munisipaliteit van mening dat die onderskeie instellings in die toekoms selfs vroeër ag moet slaan op weerberigte om beter koördinasie te bewerkstellig en risiko te bestuur. Die water moet proaktief vrygelaat word sodat die Bergrivier nie sy walle oorstroom nie.”

Volgens Pienaar sal hierdie maatreëls die potensiële skade aan infrastruktuur verminder.

Volgens Zahid Badroodien, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, besit en bedryf die Stad die Wemmershoek- en Bergrivierdamme vir watervoorsiening aan die stad en omliggende munisipaliteite.

Badroodien het ook verduidelik dat die provinsiale rampbestuur ooreengekom het om piek-watervloei in die Wemmershoekdam teen 16:00 Sondag 24 September te verminder – sowat agt uur voordat die reën teen middernag uitgesak het.

“Die toegewing om piek-watervloei uit die dam te probeer verminder, is deur die Stad in oorleg met provinsiale rampbestuur voorgestel [om toegepas te word] sodra ’n uiterste fase 9-weerwaarskuwing vir swaar reënval uitgereik word. Dit is gedoen in ’n poging om ander owerhede te help om die verwagte erge oorstromings te versag,” het Badroodien gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article