Idasvallei en Cloetesville is vol opgewondheid in die aanloop tot die jaarlikse derby tussen die Hoërskool Lückhoff en die Hoërskool Cloetesville. Die week se sport kom Saterdag (23 Augustus) tot ‘n einde wanneer die skole se eersterugbyspanne op die Van der Stel-sportterrein kragte meet. Die skole se o.19-kapteine sien daarna uit om op die veld te ontmoet. Van links is Mnr. Lückhoff, Paul Beukes, Mej. Cloetesville, Chleó Daniels, die Lückhoff-kaptein Tristan September, die Cloetesville-kaptein Chad Fernandez, Mej. Lückhoff, Warda Gezwint en Mnr. Cloetesville, Enrico Isaacs. FOTO: Yaël Malgas

Saterdag sal die gedreun van die skare reg oor Stellenbosch gehoor kan word wanneer die skoolgemeenskappe van die Hoërskool Lückhoff en die Hoërskool Cloetesville mekaar by die Van der Stel-sportterrein die stryd aansê.

Die jaarlikse instelling waartydens Idas- vallei en Cloetesville se hoërskole kragte meet, is die eerste keer in 2000 deur die Hoërskool Cloetesville aangebied. Aanvanklik het die onderskeie skole se rugby-, netbal- en sokkerspanne kragte gemeet. Deesdae kan toeskouers ook uitsien na landloop, hokkie en skaak.

Vanjaar is ‘n besonderse jaar vir die Hoërskool Lückhoff – hy is die gasheer én die skool vier sy 90ste bestaansjaar.

Die Lückhoff Sekondêre Skool is in 1935 in Stellenbosch se middedorp gestig in wat nou as die ou Lückhoff-skoolgebou op die hoek van Ryneveldstraat en Banghoekweg bekend staan.

Vandag is dié skool ‘n hoeksteun in die Idasvallei-gemeenskap.

Die gasheerskool sal wil voortbou op sy vertoning van 2024 toe hy koning gekraai het toe die derby die eerste keer by die Van der Stel-sportterrein aangebied is.

Vir die gemeenskap was dit ‘n historiese gebeurtenis, met beide skole wat ‘n uitnodiging na die burgemeestersraadsaal deur die destydse burgemeester, Gesie van Deventer, en toe die adjunkburgemeester maar nou die eerste burger, Jeremy

Fasser, ontvang het.

Hoewel Lückhoff vanjaar weer wil seëvier, het die Hoërskool Cloetesville iets om te bewys en pronk as die skool wat die meeste derby’s oor die jare gewen het.

Die Covid-inperking het die kompetisie tussen die buurskole in 2020 en 2021 verhoed. Sedertien is daar geen keer aan die gewilde bymekaarkoms vir die Dal en Vlei se hoërskole nie.

Geesbou het die afgelope week geheers, met pretdae by albei skole, sowel as die gewilde Mnr. en Mej. Lückhoff-kompetisie, wat verlede Saterdag (16 Augustus) plaasgevind het. Warda Gezwint het as mej. Lückhoff weggestap en Paul Beukes as mnr. Lückhoff. Hul Cloetesville-eweknië is reeds in Maart gekroon. Chleo Daniels en Enrico Isaacs dra onderskeidelik die kroon van mej. en mnr. Cloetesville.

Die eerste kragmetings tussen die skole se sportsterre begin vandag (Donderdag 21 Augustus) met hokkie, landloop, skaak en netbal. Die groot stryd vind Saterdag plaas en verrigtinge begin om 09:15. Leef jou skoolgees langs die veld uit op die 24ste Hoërskool Lückhoff en Cloetesville-derby!

Lees die volledige program op bl. 1 van die derby-bylaag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article