Franschhoek en Pniël Villagers is die twee spanne van die groter Stellenbosch-omgewing, wat Saterdag 6 September in onderskeidelik Superliga B en C se kwarteindstryde van die Westelike Provinsie-rugbyunie in aksie is.
Die kwarteindstryde – ook bekend as die topses – in elk van die Superligas word op die span wat die hoogste op die punteleer gekwalifiseer het– van derde tot sesde – se tuisveld gespeel.
Franschhoek (derde) pak Collegians op die Groendal-sportterrein, terwyl Pniël Villagers (sesde) na Oranjezicht reis vir sy kragmeting teen Gardens.
Die vrouespan van Van der Stel-Evergreens pak St. George’s op Bergzicht in Stellenbosch, nadat VDE onoorwonne in Superliga A se vrouekompetisie geëindig het. In die ander kwarteindstryd speel Brackenfell teen die UWK.
Die halfeindstryde word Saterdag 13 September op City Park in Athlone beslis, voordat die eindstryde en uitspeelwedstryde op Saterdag 20 September bepaal wie waar in 2026 sal speel.
In Superliga A wag Villager en Durbell in die halfeindrondes op die wenners van die kwarteindstryd tussen Valsbaai en SK-Walmers in Constantia en Hamiltons en Ikeys in Groenpunt.
In Superliga B wag Primrose en Kraaifontein vir die uitslag tussen Franschhoek en Collegians asook Belhar en Goodwood op Erica-park in Belhar.
In Superliga C het Young Peoples en All Saints na die halfeindronde deurgedring en wag op die wenners van die wedstryde tussen Gardens en Pniël Villagers aan die een kant en Violets en Rangers aan die ander.
Die laaste twee spanne in Superliga A – Kuilsrivier en St George’s – sak na Superliga B en Hands & Heart en Kylemore van Superliga B na C. Strand United, Eerste- rivier en Caledonian Roses speel volgende jaar in die sone-kompetisie.




