Cloetesville-seun Jeremy Fasser is Vrydagoggend as die eerste burger van Stellenbosch verkies.
Fasser het amptelik die leisel by raadsheer Gesie van Deventer oorgeneem. Tydens die spesiale raadsvergadering wat by die Stellenbosch-stadsaal gehou is, is Fasser onbestrede deur Van Deventer benoem. Met geen ander nominasies nie het Fasser volgens die munisipale wet outomaties in die warm-stoel ingeskuif.
“Vandag kom ons bymekaar om die prestasies van die verlede te eer en hulde bring aan ’n uitsonderlike leier. Vanaf môre sal ons ten volle met die gemeenskap betrokke raak in ons strewe en toewyding om onvermoeid, passievol te werk vir die verbetering en voorspoed van elke inwoner in ons munisipaliteit,” het Fasser gesê.
Hy het Van Deventer uitlig vir haar nalatenskap van toewyding en die grondslag wat sy oor die afgelope jare by die Stellenbosch-munisipaliteit gelaat het.
Fasser het vir die afgelope drie jaar as onderburgemeester gedien. Volgens Van Deventer het hulle twee saam ’n “dream team” gemaak. Die raad het ook van die geleentheid gebruik gemaak om afskeid van Van Deventer te neem en sommige opposisie partye het ook die geleentheid gebruik om hul laaste paar stekies in te kry.
Van Deventer was vir die afgelope agt jaar aan die stuur van die Eikestad en voorheen burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit.
Jamestown-raadslid Mynhardt Slabbert sal nou as onderburgemeester dien.





