‘n Groep jongmense van Idasvallei het die afgelope naweek lewensreddende vaardighede danksy die VF Plus geleer.
Die VF Plus-raadslid in die Stellenbosch-munisipaliteit en die party se Wes-Kaapse jeugleier, Bernadette Steenkamp, het Saterdag (24 Januarie) ‘n praktiese noodopleidingsessie aangebied. Steenkamp is gekwalifiseer om Seta-geakkrediteerde noodhulpkursusse aan te bied.

Die doel was om gemeenskapslede, en veral jongmense, toe te rus met noodsaaklike vaardighede wat hulle in staat sal stel om met selfvertroue en kalmte op te tree wanneer elke sekonde tel, het die party verduidelik. Deelnemers is opgelei in tegnieke soos kardiopulmonêre resussitasie en basiese lewensondersteuning, die beheer van ernstige bloeding, die herkenning en hantering van asma-aanvalle, beroertes en hartaanvalle, asook die reaksie op verstikking, stuiptrekkings, skok en ander dringende mediese situasies.
“Hierdie praktiese opleiding berei hulle voor om vinnig en doeltreffend in noodsituasies, wat dikwels in woonbuurte soos Khayamandi, Cloetesville en Idasvallei voorkom, te reageer. Noodhulpkennis verander gewone inwoners in die eerste linie van reaksie. Dit red lewens voordat professionele hulp kan opdaag, verlig die druk op nooddienste en bou ‘n sterker, meer selfstandige gemeenskap,” lui ‘n verklaring van die plaaslike VF Plus-raadslid JC MacFarlane.
“Vir jongmense bou dit selfvertroue, skep bemarkbare vaardighede en open paaie na loopbane in gesondheidsorg, nooddienste en gemeenskapsleierskap. Só word werkloosheid en hopeloosheid, wat dikwels tot misdaad bydra, direk aangepak en die siklus van geweld gebreek. Dit kan nie bloot verwag word dat misdaad vanself afneem nie. Die oplossing lê in proaktiewe optrede om jongmense toe te rus met lewensreddende vaardighede, selfverdedigingsbewustheid, ambagskwalifikasies, leierskapsopleiding en sterk buurt-ondersteuningsnetwerke.”






You must be logged in to post a comment.