Die Maties-vrouerugbyspan is vir Momentum-gsport se span van die jaar-prys benoem.
Die benoeming is die hoogtepunt van ’n vyfjaarplan om Maties-rugby op te hef, met die span wat die afgelope twee jaar suksesvol na ’n hoëprestasie-eenheid oorgeskakel het.
Van die span se hoogtepunte oor die afgelope twee jaar sluit in die oorwinning in vanjaar se Varsitybeker-vrouetrofee, oorwinning in die 2022- USSA 7’s-toernooi en Intervarsity 2022, twee spelers wat aangewys is as Springbokke en vier spelers ingesluit in die Westelike Provinsie-span, sowel as vier bykomende spelers wat na Springbok-oefeninge genooi is.
“Ons is baie dankbaar vir die benoeming en erkenning van gsport vir die Span van die jaar-prys. Ons het baie werk ingesit om ’n spesiale vrouerugbyprogram by Maties te ontwikkel. Ons is geseënd met ’n ongelooflike groep vroue wat ons verteenwoordig. Dit was ’n massiewe jaar vir vrouesport en ons is trots om deel daarvan te wees,” sê Maties se hoofafrigter, Johann Zeier.
Die span word gelei deur Bianca Augustyn, ’n meestersgraadstudent in siviele ingenieurswese. Augustyn is geen vreemdeling op die internasionale rugbyverhoog nie. Sy het verlede jaar vir die Springbok-vroue-7’s-span by die Statebondspele in Birmingham gespeel en was een van die benoemdes vir die Sportvrou van die jaar-prys by die 2022-Maties-sportpryse.
“Ek was so geskok toe ek van die gsport-benoeming hoor. Dit is ’n absolute eer om saam met die nasionale vrouespanne van die Protea-krieketspan sowel as Banyana-Banyana as span van die jaar benoem te word,” het Augustyn gesê.
“Ons is baanbrekers vir vrouesport en bou ’n stewige grondslag vir die toekoms van vrouerugby in SA. Dit is opwindende tye vir ons as ’n groep en dis ’n briljante manier om die jonger geslag te inspireer.”
. Ondersteuners kan tot vandag (Donderdag 31 Augustus) aanlyn by gsport.co.za vir die Maties-vrouerugbyspan stem.
Diegene wat stem, moet ’n geregistreerde lid op die webtuiste wees.




