Stellenbosch se rugbyspanne, wat nog in die tweede helfte van die seisoen op die veld is, is oorgehaal om goeie rekenskap van hulself in die onderskeie Westelike Provinsie-ligas te gee.
Alle oë is op die vertoning van Van der Stel-Evergreens (VDE) in Superliga A gerig. Komende Saterdag (19 Julie) pak hy Helderberg tuis op die Bergzicht-stadion. VDE het die afgelope Saterdag (12 Julie) teen Hamiltons ‘n bietjie drooggemaak en 26-10 verloor.
Helderberg kan ‘n taai stryd verwag, want VDE wil nou opmaak vir dié verloor-uitslag. Boonop het dit ook Ashwin Dube se 50ste wedstryd bederf en die span sal vir dié glipsie wil vergoed.
VDE en Helderberg is albei tans op 27 ligapunte, maar Helderberg het 11 wedstryde gespeel en VDE net agt, wat beteken VDE kan nog sy posisie op die punteleer verbeter.
Durbell gee tans die pas aan, gevolg deur Villager en dan Hamiltons.
Maties het tans 16 punte ná agt wedstryde en sal sy posisie wil verbeter, maar die studente moet nog hul staal teen van die groot kanonne wys.

In Superliga B is Franschhoek tweede op die punteleer met 41 punte ná 11 wedstryde – dieselfde as Belhar. Dis net Belhar se punteverskil wat hom in die eerste plek hou. Franschhoek sukkel die afgelope paar jaar om bevordering uit Superliga B te behaal. Hopelik is 2025 sy jaar.
Kylemore beklee die laaste plek op die Superliga B-punteleer met slegs sewe punte ná 11 wedstryde en dis belangrik dat hy sy oorblywende wedstryde wen om nie gereligeer te word nie.
In Superliga C beklee Pniël Villagers die negende plek met 26 punte ná 10 wedstryde en sal ook sy oorblywende wedstryde met bonuspunte moet wen om onder die top-ses te eindig. Hy het Saterdag 34-19 met Busy Bee afgereken.
In die Promosie-liga, alombekend as die Top-9, hou Blue Stars United van Klapmuts die groter Stellenbosch-klubs se naam hoog. Hy het Saterdag 29-19 met Rocklands afgereken en is ná een wedstryd met vyf punte derde op die punteleer. Raithby Universals moet nog sy eerste wedstryd in dié kompetisie speel.
Die ander plaaslike klubs, soos Stellenbosch-Coronations, Excelsior en Blakes, is in die Challengerbeker betrokke.
Wedstrydbepalings vir Saterdag 19 Julie:
- Superliga A: VDE t. Helderberg; Maties (loslootjie);
- Superliga B: Franschhoek en Kylemore het albei loslootjies;
- Superliga C: Pniël Villagers t. All Saints;
- Promosie-liga: Raithby Universals t. Fisantekraal en Blue Stars United t. Elsies River United.






You must be logged in to post a comment.