Talle klubrugby-legendes het byeengekom vir die eerste Dwarsrivier-7’s-toernooi.

Avril Fillies

Pniël Villagers het die afgelope naweek die eerste keer in die 124-jarige bestaan van dié klub daarin geslaag om al agt spanne van die Dwarsriviervallei op een dag vir die eerste Dwarsrivier-7’s-toernooi bymekaar te bring.

Die eerste wenners is Franschhoek, wat in die eindstryd 19-7 met Pniël Villagers afgereken het.

Die spanne, wat deel is van die Dwarsriviervallei en in die rugbykompetisies van die Westelike Provinsie-rugbyunie speel, is Franschhoek, Pniël Villagers, Kylemore, Dennegeur, Lanquedoc, La Motte, Simondium en Wemmershoek.

Een van die hoogtepunte van die naweek was die verering van oudspelers en -administrateurs van die onderskeie klubs – ongeag waar hulle voorheen gespeel het – en ook spelers wat ná eenwording op die rugbyveld presteer het. Charles Williams het al die pad uit George gereis, Elmar Kruger van Gqeberha en Llewellyn du Preez van Montagu af om die geleentheid by te woon. Die oudste gas wat teenwoordig was en vereer is, is die 82-jarige Andrew Williams.

In sy toespraak oor waarom besluit is om dié bekendes te vereer, het Winston Stubbs, voorsitter van Pniël Villagers, genoem dat vandag se rugbyspelers nie besef watter opofferings deur die bekendes gemaak is sodat die jonger geslag nou die vrugte daarvan pluk nie.

Die bekendes van die agt rugbyklubs van die Dwarsriviervallei, wat op Saterdag 7 Februarie vereer is, met hul sertifikate en geskenke voordat die eindstryde vir die Plaat- en Bekerkompetisie beslis is.

“Voorheen kon hulle nie die Springboktrui oor die kop trek of vir een van die groot unies soos Noord-Transvaal, Tranvaal, Natal, Vrystaat of WP uitdraf nie – weens hul velkleur. Dit het hulle egter nie daarvan weerhou om vir die voormalige Suid-Afrikaanse rugbyunies soos Boland, OP, Noord-Kaap, SWD, WP, Transvaal, die WP-uitnodigingspan of Saru-uitnodigingspanne uit te draf nie,” het hy gesê.

“Baie van ons kinders ken nie die geskiedenis van die agt klubs of wie die bekendes van die klubs is nie. Hulle het nie destyds op grasvelde gespeel nie, maar op grond; daar was nie kleedkamers nie – jy het sommer as jy by die veld gestop het, in jou motor uitgetrek en uitgedraf. As jy saans moes oefen, het almal hul motor so parkeer dat die motorligte die veld verlig het. Hulle het dit gewis nie maklik gehad nie, maar groot hoogtes in hul sportsoorte bereik.

“Die jonger geslag het vandag die voorreg om vir die VKR-spanne, Blitsbokke of Springbokke te speel. Twee spelers wat die Dwarsriviervallei in die VKR trots maak, is Devon Williams en Edwill van der Merwe, terwyl Adrian Jacobs vir die Boland en Bulls uitgedraf het. Ludwig Johnson was ook lid van die Gouebekerspan van Noord-Transvaal en het op flank die lostrio saam met Chris Solomons en Don van der Westhuizen gevorm. Ons is ook trots op Juanita Jacobs, wat die Boland, die Leeus en die Bulle in 15’s verteenwoordig het.

LEES OOK: Edwill se buiging laat talle regop sit

“Die bestuur het besluit om as ‘n blyk van waardering die bekendes voor die eindstryde aan die publiek bekend te stel en lede van hul onderskeie klubs kan by hul klubs met hul bekendes gaan gesels en hoor hoe dit in hul speeldae teenoor vandag was,” sê Stubbs.

Die sportgemeenskap was in die bekendes se speeldae in ‘n somer- en wintersport verdeel – nie soos vandag dat jy omtrent die hele jaar rugby of krieket speel nie. Baie van hulle het vir ‘n somersport atletiek beoefen of krieket gespeel, en in die winter was dit rugby, hokkie of sokker.

Van hulle het by die voormalige Hewat-onderwyskollege in Athlone of die Onderwyskollege Suid-Kaap (OKSK) in Oudtshoorn gaan studeer en kon steeds hul geliefde sportsoorte beoefen.

Ná voltooiing van hul onderwysopleiding het die nuwe onderwysers hul kennis met hul leerders gedeel en hulle gehelp om sportmanne en sportvroue te word.

Juanita Jacobs, die enigste vrouespeler wat die Boland, die Leeus en die Bulle se 15-talle verteenwoordig het, met die 82-jarige Andrew Williams.

Die feit dat hulle nou onderwysers was, het hulle ook nie weerhou om weer vir hul dorpspanne te speel nie en hulle het verdere hoogtes bereik.

“Die Dwarsriviervallei-7’s-toernooi sou nie moontlik gewees het sonder Tamara Patel van ons hoofborg, Rhodes Quality, nie. Toe ek om hulp gevra het, het hulle dadelik ingestem en ek is seker ons sal in die toekoms net verder kan groei,” sê Stubbs.

Onder die gaste was die Blitsbokke Ronald Brown en Dewald Human, die burgemeester van Stellenbosch-munisipaliteit, Jeremy Fasser, en ander raadslede, asook Herman Masimla, senior bestuurder vir die hoëprestasie-afdeling van SA Rugby. Kevin Kiewitz, die president van die WP-rugbyunie, en dr. Arthur Williams, voorsitter van die Dwarsriviervallei-hub, het die bekendstelling van die toernooi op Woensdag 4 Februarie bygewoon. Kiewitz het in sy toespraak gesê die WP gaan voortaan meer aandag aan gemeenskapsrugby gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article