Die vermaak is deur die ATKV-Cresendo-musikant Selby Williams verskaf. Hy is bygestaan deur Jean-Marc Meyer op kitaar. Foto’s: Yaël Malgas

Afrikaanspraters, -liefhebbers en vriende van die taal het verlede Donderdag (14 Augustus) by die Middelvlei-wynlandgoed byeengekom om te besin of daar ‘n toekoms vir Afrikaanse radio is en hoe dit sal lyk.

Die Vriende van Afrikaans (VVA) het vir ‘n Ommietafelgesprek vir Frazer Barry, die gesoute joernalis Crystal Orderson, die RSG-aanbieder Martelize Brink en die eienaar en bestuurder van Paarl FM, Lynden Jafta, byeengebring om te gesels oor hoe en wat moontlik op die voortbestaan van Afrikaanse radio wag.

Die gespreksleier, Frazer Barry, saam met die radio-kundiges. Van links is Barry, die joernalis Crystal Ordenson, die Paarl FM-eienaar Lynden Jafta en die RSG-aanbieder Martelize Brink.

“Radio bly ‘n kragtige manier om met ‘n massa mense te kommunikeer,” sê Jafta.

Hy het sewe jaar gelede die plaaslike kommersiële radiostasie Paarl FM begin omdat hy besef het daar was ‘n behoefte vir Afrikaanse gemeenskapsradio in die streek. Hy meen daar is gewis ‘n toekoms vir Afrikaanse radio, maar soos Orderson ook besin het, sal dié medium soos ander “tradisionele media” by die veranderende media-landskap moet aanpas.

Orderson, wat haar loopbaan by die openbare uitsaaier begin het, sê vir radio om te oorleef sal diegene agter die skerms kreatief moet wees.

“Ons sal nuwe stories moet skep waarin verskillende gemeenskappe hulself sien. Tradisionele media ding mee met ‘n nuwe generasie tegnologie. Die uitdaging is om hoe om generasies van luisteraars te behou en te laat groei,” sê sy.

Brink, wat haar radio-loopbaan by die destydse MFM 92.6 begin het, sê vrese dat radio dieselfde afdraandepaadjie as die gedrukte media sal volg, was toe nie die geval nie.

“Radio bly die toeganklikste manier vir Suid-Afrikaners om inligting te kry. Vir baie luisteraars wat in verafgeleë gemeenskappe woon, is dit moontlik die enigste plek waar hulle hoor wat in die wêreld aangaan,” verduidelik sy.

Hoe radio moet verander, is dalk ook nie so ‘n komplekse uitdaging nie. Volgens Jafta sê die luisteraars wat hulle wil hê. Hy meen sosiale media moet deel van ‘n radiostasie se aanbieding wees, want dis waar luisteraars is.

Daarom gebruik hy video’s op TikTok en regstreekse uitsendings op Facebook om luisteraars ‘n multimedia-aanbieding te gee.

Brink voeg by radiostasies moet ruim- te skep vir Afrikaans en beklemtoon dat dit die Afrikaans van alle Afrikaanse sprekers moet wees. “Soveel keer kry ek gaste wat vir hul Afrikaans verskoning maak,” sê sy.

Sy glo daar sal altyd luisteraars wees wat kla dat nie almal op die lug suiwer, standaard-Afrikaans praat nie, maar sê die stories wat Afrikaanssprekendes het om te vertel, is belangriker as grammatika. Daarom sal sy as aanbieder altyd haar beste Afrikaanse voet voorsit, maar verwag dit nie van diegene wat hul stories met die luisteraars deel nie.

Die ATKV-Crescendo-kunstenaar Selby Williams en Jean-Marc Meyer het die gehoor met musiek vermaak. Williams het gaste bederf met “In die Stilte” – sy eerste enkelsnit wat op 29 Augustus bekendgestel word.

Mercia Eksteen, die ATKV se hoof van kommunikasie, sê die ATKV is gestig om die lekker van Afrikaans-wees te vier – ‘n taak wat vir drie dekades deur die VVA voortgesit is en met die Ommie- tafelgesprekke op die erfenis van die taal voortbou.

Gaste het die geleentheid gebruik om met die paneel skouers te skuur. Onnder hulle was, van links, Ria Oliver, Martelize Brink, Lyntjie Jaars en (agter) Fazer Barry en Drs. Hendrik Theys. FOTO: Yaël Malgas
Die paneel was gespreksleier Frazer Barry, joernalis Crystal Orderson, Paarl.FM-eienaar Lynden Jafta, Martelize Brink. Saam is (agter) Shireen Crotz van die Vriende van Afrikaans en organiseerder van die VVA-Ommietafelgesprek en ATKV-Crescendo-kunstenaar Shelby Williams. FOTO: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article