’n Baie besonderse kunsuitstalling, Bazoo se wonderwêreld, soos geïllustreer deur Fred Mouton word tot Saterdag 2 Maart by die Oude Leeskamer-galery in Stellenbosch uitgestal.
Bazoo neem die jongspan op ’n avontuur deur die galery, waar kinderkuns en interaktiewe aktiwiteite Oude Leeskamer in ’n towerspeelplek vol verrassings omskep.
Die uitstalling is ’n kombinasie van ’n uitgewer wat onwrikbaar glo in die wonder van stories, die akademiese voordeel wat die voorlees daarvan vir kinders inhou en ’n wêreldklas kunstenaar het ’n klein bergskilpad uit sy dop laat kruip om ’n liefde vir lees by ons kinders te kweek.
Mouton, wat vir vyf dekades Die Burger se geliefde spotprenttekenaar is, het hom ook op die terrein van kinderkuns begewe en gestalte gegee aan Bazoo, die vriendelike bergskilpad. Hy skep met sy eiesoortige tekenvernuf en droë humorsin, ’n tuiste vir Bazoo en sy storiemaats – die nimlike Fynbosbuurt op Tafelberg.
Tessa Arendse, oud-onderwyseres en geletterdheidspesialis is dit eens: “Kwaliteit sketse kan die towersleutel, die brugbouer word, tussen die aanleer van letters en klanke (oppervlakstruktuur) en lees met begrip (diepte struktuur) vir jong ontluikende lesers. Dit is wat Fred, ’n meester op sy gebied, juis so goed reggekry het.”
Stellenbossers word genooi om die uitstalling, wat oud en jonk sal betower, te besoek. Dit kan Dinsdag tot Donderdag van 09:00 tot 17:00, Vrydag van 09:00 tot 16:00 en Saterdag van 10:00 tot 16:00 besigtig word. Toegang tot die galery is gratis.
Saterdag 17 en 24 Februarie, en Saterdag 2 Maart vanaf 10:00 tot 11:00 is daar ook ’n spesiale program vir die jongspan.
Hierdie naweek (17 Februarie) is dit tyd vir Fynbos-pret, waar kinders saam na die wonderlike Kaapse blommeryk kan kyk. Deur interaktiewe installasies en prettige aktiwiteite ontdek kinders die geweldige verskeidenheid van die fynbosryk, waar meer as 9 000 plantspesies blom, waaronder die merkwaardige Protea, die nasionale blom van Suid-Afrika.
Saterdag 24 Februarie is dit kunsvlyt-tyd. Die jongspan sal ’n oggend vol kreatiwiteit geniet en uiting aan hul verbeelding kan gee. Klein handjies sal Bazoo-karakters laat lewe deur hul geliefkoosde karakters uit klei te skep. Laat hul kreatiewe energie bruis terwyl hulle bou, verf en speel.
Bazoomba is Saterdag 2 Maart aan die beurt. Kom maak jou litte los en leer die Bazoomba-dans by die laaste aanbieding van die program. Die program sluit op ’n hoë noot af met ’n spesiale besoeker al die pad van Tafelberg.
’n Beperkte aantal afdrukke van Mouton se sketse is ook by Oude Leeskamer-galery te koop.
- Vir meer inligting, besoek www.oudeleeskamer.org of skakel 021 001 8829.





