Ná meer as ’n eeu van diens bedien die vrywilligers van ACVV Stellenbosch steeds die gemeenskap en bou voort vir die volgende 120 jaar.
Dié welsynorganisasie vier vandeesmaand sy 120ste verjaarsdag.
Stellenbosch se tak in Merrimanstraat is een van die oudstes in die land.
“Die geskiedenis wys dat min ondernemings, wat nog te sê welsyndienste, 100 jaar van bestaan oorleef en tog vier ons nie net die ACVV as vereniging nie, maar ook die ACVV Stellenbosch se 120ste bestaansjaar gedurende Oktober. [Dit is] voorwaar ’n prestasie, maar in groot erkentlikheid aan ons Hemelse Vader,” meen die plaaslike voorsitter, Belinda Mostert.
Die ACVV is in 1904 in Kaapstad deur ’n groep Christenvroue gestig, wat daadwerklik en prakties hulp aan slagoffers van die Anglo-Boereoorlog wou verleen. Op hul beurt was die ACVV Stellenbosch-tak ’n baanbreker op vele gebiede. Die tak het jare lank finansiële bydraes aan die plaaslike hospitaal sowel as aan die Groote Schuur- en Somerset-hospitaal gegee en só seggenskap in die aanstelling van die hospitaalbestuur gehad. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Monica-koshuis is ook gebou met geld van die ACVV en die tak was instrumenteel in die ontstaan van die departement maatskaplike werk by die US.
Boekekennis is een ding, maar die ervaring wat ACVV Stellenbosch sedert sy stigting opgedoen het, is ook waardevolle praktiese kennis.
“Ons moet mense in ons 120ste jaar opnuut aanmoedig om vrywillig by die nood in ons gemeenskap betrokke te raak. Dit is so dat baie vroue werk doen, wat die oorspronklike bron van vrywilligers vir die ACVV was.”
Die ACVV-span meen sukses is wanneer hulle ’n kwesbare mens in nood bystaan en met deernis en op bekostigbare wyse iemand se nood verlig asook wanneer leierskap op voetsoolvlak ontwikkel word. Sonder toegewyde bestuur, vrywilligers en personeel sou die dienste nooit gelewer kon word nie.
“Al die rolspelers en organisasies wat ’n bydrae gelewer het en veral ons maatskaplikewerk-afdeling ondersteun en in staat stel om hul dienste te kan lewer – sonder hierdie instansies en organisasies sal ons nie dienste in Stellenbosch kan lewer nie.”
Mostert verduidelik sonder vriende kan ’n instansie ook nie sy werk doen nie. Die ACVV-span se vriende is hul skenkers, familielede, diegene wat in hul doen en late belangstel, kollegas met wie hulle saamwerk – elkeen wat ’n bydrae lewer, maak ’n verskil.
“Vir 120 jaar van dienslewering – aan God alle eer.”




