Pastor Dirkie, Aunty Babsie en Jerome van Cloetesville ken jy dalk nie, maar hierdie karakters wat deur Kevin Peter Jooste geskep is, sal almal in hul eie gemeenskappe herken.
Jooste (46) het vier dekades gelede met sy gesin van Vlottenburg na Cloetesville verhuis.
“Hierdie gemeenskap het my grootgemaak. Ek ken die strate, die draaitjies en dit is die mense wat dié maak. Ons almal weet van die euwel in die gemeenskap, die bendes, gesinsgeweld, dwelms…”
Maar vir dié voormalige Hoërskool Cloetesville-hoofseun is sy gemeenskap soveel meer as net hierdie dinge. “Cloetesville is my plek en ek is lief vir hierdie plek.”
Dit is juis in sy gemeenskap waar Jooste inspirasie vir sy kortverhale vind. In Aunty Babsie van die White City vertel hy van ‘n ouma se obsessie met haar Turkse sepies, en Skarrelkind: Die verhaal van Attie bied ‘n “tikkop” ‘n les of twee.

Jooste is ‘n opgeleide sjef, het jare lank in die gasvryheidsbedryf gewerk en altyd ‘n passie vir skryf gehad. Sy verhale kom na hom soos lappies wat soms eers geweef en reggemaak moet word, terwyl ander deur die kommentaar op sy ver- hale op Facebook geïnspireer is.
“Om die waarheid te sê, soms weet ek self nie waar die storie gaan eindig nie,” skerts hy.
Nes sy gemeenskap talle uitdagings het, het Jooste sy eie. Kanker is 15 jaar gelede by hom gediagnoseer en hy ontvang steeds by die Tygerberg-hospitaal behandeling.
Tog sê hy sy diagnose het hom baie geleer.
“Ek was ‘n tyd lank self stout, maar die kanker het my lewe omgeswaai. My pa is jare terug oorlede, my suster is vermoor en ek het vir drie jaar na my ma, wat verlede jaar oorlede is, omgesien. Dit is moeilik, maar ek is betrokke by die Angelikaanse kerk, sing in die koor en het goeie ondersteuning van my vriende en familie.
“Dit is mos maar hoe ons is – saam met die hartseer is daar altyd ‘n komiese element. Kyk net met die onlangse stormweer die fototjies wat gemaak is van die burgemeester wat in die strate af is op ‘n bootjie . . . ek is dankbaar vir die Here wat my steeds deurdra.”
LEES OOK: Cloetesvillers ontmoet op die kassie
Jooste sê hy is ‘n amateur-skrywer en het destyds ‘n vervolgverhaal van 17 episodes vir Son op Sondag geskryf en al bydrae op Lit.net gehad. Hy is ook lid van ‘n plaaslike digtersgroep.
Die kortverhale wat Jooste op sosiale media deel, is stories waarmee die gemeenskap hom kan vereenselwig. Aunty Babsie is byvoorbeeld deels deur sy wyle ma, Roseline, geïnspireer. Sy was dikwels só vasgevang in haar sepies dat sy met die televisie geraas het.
Jooste hoop om minstens 15 kortverhale te skryf om ‘n bundel saam te stel.
“Kinders van Cloetesville moet sien die wêreld is groter. Daar is geen rede vir enigiemand om terug te staan nie – tel op die pen en papier en skryf!”
Jooste sê hy skaaf tans aan twee verhale. Een handel oor ‘n vriendegroep en in ‘n ander is daar drama in die huis omdat familielede nie oor die weg kom nie.
Volg Kevin Peter Jooste op Facebook en verlustig jou in dié Cloetesviller se unieke stories.






You must be logged in to post a comment.