STELLENBOSCH – Die hele Dwarsrivier Vallei en gemeenskap van Pniël buite Stellenbosch is vandeesweek op hol gejaag na vals foto’s van ‘n luiperd wat deur die strate van Pniël paradeer, die rondtes begin doen het.
Verskeie inwoners het Dinsdag 9 Maart die foto gedeel om mense te waarsku om “uit te kyk” vir die luiperd en hulle deure gesluit te hou.
Dit volg als nadat ‘n video gedeel is oor die luiperd wat op die hange van Simonsberg rondloop. Die luiperd is vasgevang op CCTV-kamera.
Op hul Facebook-blad het die Cape Leopard Trust gesê dat die foto’s wat in die rondte gaan vals is en deur KI (kunsmatige intelligensie) gedoen is.

In ‘n inskrywing sê die groep: “Hierdie twee beelde van ‘n luiperd wat glo deur die strate van Pniël loop, word tans wyd versprei. Hulle is nie eg nie – dit is kunsmatige intelligensie (KI) gegenereerde foto’s.”
Hulle noem ook dat die video van ‘n luiperd op die hange van Simonsberg wat in omloop is, wel eg is. “Dit was waarskynlik hierdie video wat iemand aangespoor het om beelde te genereer wat voorkom asof hierdie luiperd deur die nabygeleë Pniël loop.”
Daar word gevra dat mense asseblief nie die vals foto’s deel nie – dit saai paniek en verkeerde inligting oor luiperdgedrag wat ongelooflik skadelik kan wees vir hierdie ontwykende diere se welstand.
Die Cape Leopard Trust beklemtoon dat sulke misinformasie ernstige gevolge kan hê vir die beskerming van hierdie bedreigde spesie. Luiperds is van nature skugter en vermy menslike kontak – valse beelde wat hulle as ‘n bedreiging in woongebiede uitbeeld, kan lei tot onnodig gewelddadige reaksies teen hierdie belangrike roofdiere.
Oor die Cape Leopard Trust
Die Cape Leopard Trust (CLT) is ‘n omgewings-NRO en nie-winsgewende organisasie, gestig in 2004 en gebaseer in die Wes-Kaap. Die organisasie se missie is om luiperds en die luiperd-landskap te beskerm, en saambestaan tussen mens en wilde dier te ondersteun, deur samewerkende navorsing, bewaring, onderwys en strategiese kommunikasie.





