Huis Horison Gholfdag 2026 Huis Horison se span Elona Milner, Dave Keyser, Rebecca Foxmartin, en Merissa Slinger.
Huis Horison het vanjaar weer ‘n suksesvolle gholfdag gehou wat sal help om hul kritiese dienste aan hul inwoners te bied.

Huis Horison en Cluver Markotter het verlede Donderdag (5 Maart) hul 17de gholfdag by die Stellenbosch-gholfklub aangebied in ‘n poging om hul koffers aan te vul en hul ondersteuners met ‘n dag se gholf te bederf.

Hier was die laaste van die Investec- Suid-Afrikaanse opekampioenskap se pawiljoene nog te sien, maar dit blyk die spelers het glad nie omgegee nie. Verlede week se geldinsamelingsgeleentheid was ten bate van die residensiële en beskutte werksentrum in Stellenbosch, wat in die versorging van volwassenes met intellektuele gestremdheid spesialiseer.

Cluver Markotter is sedert 2013 reeds die jaarlikse gholfdag se hoofborg.

“Die gholfdag is elke jaar ‘n belangrike deel van die geldinsamling wat vir die sentrum gedoen word en word goed deur die Stellenbosse gemeenskap ondersteun.Vanjaar was ons baie dankbaar vir ‘n groot speelveld en vir al die spelers wat die dag vir ‘n mededingende dag se gholf bygewoon het.

“Almal was opgewonde om op die baan te speel, aangesien dit die eerste opedag was wat ná die SA Opekampioenskap daar gehou is,” verduidelik Elzabi van Wyk, wat aan die stuur is van Huis Horison se bemarking, geldinsameling en projekte.

  • Huis Horison Gholfdag 2026

Volgens die spelers was dit ‘n goeie dag om gholf te speel, hoewel die baan plek-plek ‘n uitdaging was.

Benewens die gholf het spelers aandete en ‘n veiling ná die pret geniet. Veertien lotte is opgeveil vir die 17 Huis Horison-inwoners wat nie die vermoë of ondersteuningsnetwerk het om tot hul verblyf en versorging by te dra nie.

Van Wyk sê dié groep het geen ander heenkome nie. “Dit is Huis Horison se plig om ‘n tuiste vir hulle tot die einde van hul lewe te verseker. Die geld wat by die gholfdag ingesamel word, is vir hierdie groep se sorg.”

Hoewel die groot wenners van die gholfdag eintlik die inwoners van Huis Horison was, was die wenspan Wehmeyer Ferreira, Marius Blomerus, Corniel van Niekerk en Johan du Toit.

In die tweede plek was die span van Stellenbosch-paneelkloppers – Anton Grobbelaar, Philip Robinson, Roan Malherbe en Dayle Richards. Die span van Belsvlei – Johan Hanekom, Karel Botha, Johan van Aswegen en Johan Burger – was derde.

Huis Horison Gholfdag 2026
Darren Gordon (Huis Horison), Wehmeyer Ferreira en Johan Du Toit.

• Lesers wat graag meer wil weet oor Huis Horison en hul ondersteun, kan hul webblad besoek of per e-pos by bemarking@huishorison.org.za kontak maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article