Coronations-krieketklub se vrouespan
Die Coronations-krieketklub se vrouespan het die afgelope seisoen weer geseëvier. Foto: Hilton Ruthford

Die vrouespan van Coronation-krieketklub het die afgelope naweek hul onoorwonne status behou, dansky ‘n oortuigende nege-paaltjie sege oor hul eweknie van die Caledon-krieketklub.

Die spanne het Sondag 8 Maart in ‘n 20-boulbeurtwedstryd by die Groot Drakenstein-sportklub kragte gemeet en die tuisspan het uit die staanspoor reeds hul stempel op die wedstryd afgedwing.

Caledon het eerste gekolf en gesukkel om aan die gang te kom, dansky uitstekende boulwerk van die Corries-span. Dit was veral Melissa van der Merwe (3/4) en Janel Steenkamp (2/12) wat die regte vrae aan die besoekers gerig het.

Caledon het aan die einde van hul kolfbeurt slegs 59/7 aangeteken.

LEES OOK: Corries se vroue seëvier oor Stellenbosch-ewekniëe

Op hul beurt het die Pniëllers ligte werk van die 60-lopie-teiken gemaak en het net 6.3-boulbeurte benodig om oor die lyn te kom. Christine Tomlinson (19*) en Mia van der Vyver (22*) het met die kolf hul span na 61/1 en die sege gelei.

Corries moes op die dag ook teen die Grabouw-krieketklub kragte meet, maar laasgenoemde het nie ‘n volledige elftal gehad om op die veld te stuur nie, en het dus alle punte aan die tuisspan oorhandig.

Die plaaslike span is weer komende Sondag (15 Maart) in aksie, wanneer hulle Grabouw by die Elgin-buiteklub ontmoet. Die span is reeds as die Boland se 50-boulbeurtligakampioen gekroon.

Coronations-krieketklub se vrouespan
Die Coronations-krieketklub se vrouespan vier Sondag hul sewepaaltjie-sege oor die Stellenbosch-krieketklub in die eindstryd van die Bolandse vroueliga T20-kompetisie. Foto: Hilton Ruthford

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article