Danie Keet

Die meeste Stellenbosse wynplase het feitlik geen bekendstelling nodig nie, maar dit is altyd belangrik om te onthou buiten die bekende name wat gereeld in die kollig verskyn, glinster talle juwele in die Suid-Afrikaanse wynkroon nog.

Een hiervan is Kanu-wyne, wat langs een van die bekendste pinotage-produsente, Beyerskloof, geleë is, maar gewis nie in sy buurman se skadu staan nie.

Anders as die algemene stories van baie van die ander wynplase, is op Kanu iemand wat al vir soveel jare die wynbeuel blaas dat hy as die engel van wyn beskryf word – Cobus Germishuys. Hy is ‘n bekende figuur in Suid-Afrika se wynbedryf en staan liefdevol bekend as die “Wynengel van Stellenbosch”.

Cobus Germishuys, alom bekend as die “Wynengel van Stellenbosch”.

Cobus, wat op die plaas Remhoogte naby Baardskeerdersbos in die Overberg gebore is, het van kleins af ‘n passie vir letterkunde en kommunikasie ontwikkel – gedryf deur sy ma se wysheid om uitdagings met selfvertroue te benader.

Hy het letterkunde as ‘n bykomende vak op skool geneem en hom later met vrywillige werk en vryskutskryfwerk besig gehou.

Cobus se loopbaan in die wynbedryf strek oor meer as 25 jaar en hy het by bekende Stellenbosse wynplase soos Muldersbosch en die Kanu-wynlandgoed gewerk. Op Kanu is hy tans die proelokaal-bestuurder.

Cobus vertel hy het al die voorreg gehad om met bekende figure soos Margaret Thatcher, pres. Arab Moy en Oprah Winfrey in aanraking te kom – ontmoetings wat elkeen ‘n blywende indruk op sy lewe gelaat het.

As ‘n meesterverteller verweef Cobus boeiende verhale wat gaste na ander wêrelde vervoer en wat wynproe by Kanu-wynlandgoed ‘n meesleurende ervaring maak.

Sy uitsonderlike kommunikasievaardighede, warmte, empatie en positiewe gesindheid het hom ‘n geliefde figuur in die wynbedryf gemaak.

LEES OOK: Kanu se ‘Engel van Wyn’ geniet elke ‘vertoning’

Benewens sy werk in die wynbedryf is Cobus ook ‘n bekwame fotograaf, wat die skoonheid van die Wes-Kaap deur sy lens vasvang.

Sy foto’s het al in verskeie publikasies verskyn en toon sy kreatiewe oog en sy vermoë om stories deur foto’s te vertel.

Deur sy lewe en loopbaan het Cobus daaraan toegewyd gebly om ander te inspireer – hetsy deur sy storievertelling, fotografie of opregte menslike interaksie.

Sy betrokkenheid by die wynbedryf en die bevordering van die Kanu-handelsmerk is ‘n bewys van die krag van passie, toewyding en verbondenheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article