Die eerste span van die Stellenbosch-krieketklub het Saterdag (24 Januarie) ‘n verrassende oorwinning oor sy eweknie van die Van der Stel-krieketklub (VDS) behaal.
Die spanne het in ‘n Boland-premierliga- 50-boulbeurtwedstryd op die Van der Stel-sportterrein kragte gemeet, met die besoekers van Idasvallei wat ‘n oortuigende 54-lopie-sege oor hul bure beklink het.
Die besoekende kaptein, Curt Oliver, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, met sy kolwers wat die geleentheid gebruik het om hul staal te wys. Callum Moses (49), Oliver (40) en Peter Minnis (29) het almal tot hul span se eindtotaal van 178/10 in 49.1 boulbeurte bygedra.
Vir die manne van Van der Stel het Connor Batt (2/14), Rayyaan Rhode (2/20) en Werner Brand (2/45) die regte vrae aan die Stellenbosch-kolwers gerig.
Op hul beurt het die Van der Stel-kolwers voor die penne gesukkel, maar Andre Hanekom (45) en Pieter Malan (41) het hul bes gedoen om die teiken na te jaag. Die akkurate en gedissiplineerde boulwerk van Peter Cyster (3/29), Aya Gqamane (2/23) en Lishan Meyer (2/28) het vir Stellenbosch die nodige hupstoot gegee om hul bure vir 124 lopies in die 33ste boulbeurt uit te boul en die oorwinning te behaal.
Ander uitslae:
Victoriane t. Paarl (Tassies-ovaal):
Victoriane 153/10 in 39.5 boulbeurte – Jayden Meyer 40.
Paarl 154/1 in 24.4 boulbeurte – R Javaij 1/40.
Vics verloor met 9 paaltjies.
Robertson t. Coronations (Robertson-sportterrein):
Robertson 181/10 in 38.2 boulbeurte – Paulston Adams 3/32; Sanele Qubuda 3/53; Ethan-John Cunningham 2/18.
Coronations 185/4 in 23.1 boulbeurte – Zemile Adams 76*; Gearin Hendricks 51.
Corries wen met 6 paaltjies.
Coronations-vroue t. Worcester United-vroue (Kylemore-sportterrein)
Coronations 334/4 in 50 boulbeurte – Mia-lize van der Vyver 168; Chantelle van Schoor 34; Lize de Waal 31.
Worcester United 55/10 in 14.4 boulbeurte – Moseline Daniels 6/7. Corries wen met 284 lopies.
*Bepalings vir Saterdag 31 Januarie: Paarl t. VDS; Worcester United t. Vics; Maties t. Young Peoples; Stellenbosch t. Paarl-Oos; en Coronations t. Vredenburg-Saldanha.





