‘n Geliefde voormalige Paarl Gimnasium-leerder en Universiteit Stellenbosch-student se lewe is verlede Maandag (1 Desember) kortgeknip toe hy in ‘n motorfietsongeluk in Durbanville dood is.
Thomas Bath (19) het op dié dag op sy motorfiets gery toe hy teen ‘n lamppaal gebots het, waarna hy deur mediese personeel op die toneel dood verklaar is.
Volgens sersant Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het die ongeluk om 20:45 op die hoek van Hoof- en Kerkstraat gebeur. Twigg bevestig dat die Durbanville-polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.
In ‘n Facebook-plasing op die Oud- Gimmies-Facebookblad spreek die blad sy medelye teenoor die Bath-familie uit. Luidens die Facebook-plasing het Bath in 2024 aan die Hoërskool Gimnasium Paarl gematrikuleer.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het bevestig Bath was ‘n BCom-student in wiskundige wetenskappe en ‘n inwoner van die Huis Visser-koshuis.
“Ons gedagtes en innige meegevoel gaan uit na sy dierbare familie, vriende, Huis Visser-mede-inwoners en klasmaats in hierdie moeilike tyd. Die skielike verlies van ‘n jong lid van ons universiteitsgemeenskap word diep deur ons almal gevoel.
“In hierdie baie moeilike tyd moet ons ruimte laat vir Thomas se familie en vriende om te rou,” sê dr. Leslie van Rooi, waarnemende studentedekaan van die US, in ‘n verklaring.
Dr. Charl Davids, koshuishoof van Huis Visser sê: “Thomas was ‘n gewaardeerde en gerespekteerde lid van Huis Visser. Hy was iemand wie se stille krag, warm teenwoordigheid en gemaklike omgee op ‘n besonderse manier tot die hart van ons gemeenskap bygedra het.
“Thomas was nie net bekend vir sy toewyding tot sy studies nie, maar ook vir die opregtheid waarmee hy met diegene rondom hom omgegaan het.”
Eikestadnuus het na die Bath-familie uitgereik, maar hulle het aangedui dat hulle nie in hierdie stadium kommentaar wil lewer nie.





