Spanlede van Beautiful World, van links ,is Owam Doro, Brian Smith, Theodore van der Westhuizen en Ethan Pietersen. Twee uitvoerings van dié musiekblyspel word op Erfenisdag opgevoer.

Die e’Bosch-erfenisprojek bied vandeesmaand met trots sy 2025-Erfenismaand- program aan – ‘n energieke viering van erfenis, gemeenskap en leierskap oor Stellenbosch en sy omliggende dorpies heen.

Die e’Bosch-verklaring van voorneme herinner inwoners dat erfenis nie net oor die verlede gaan nie – dit gaan oor die skep van ‘n toekomserfenis saam.

“Deur kultuur te vier, gemeenskap te versterk en leierskap te bemagtig, lê ons die grondslag vir ‘n Stellenbosch waar almal hoort,” sê dr. Sias Mostert, direkteur van e’Bosch. “Erfenis is meer as net herinnering – dit is die geskenk wat ons skep vir dié wat ná ons kom. Wanneer ons saam vier, versterk ons ons gemeenskap en ontsluit die leierskap binne elkeen van ons. Só bou ons ‘n toekomserfenis wat sal voortleef.”

Die hoogtepunt vanjaar is die erfenisdagviering aanstaande Woensdag (24 September), met ‘n hele dag vol aktiwiteite vir jonk en oud.

Dit begin om 09:00 met die Fees van Talente by die Stellenbosch-stadsaal en duur tot 18:00.

Kitsrym-gevegte, poësie, drama, stories, dans, solo- en groep-sang en ‘n spesiale gospel-uur is deel daarvan. Die program sluit af met die prysuitdeling vir talente met BBP-gaste, asook die première van die oorspronklike musiekblyspel Beautiful World, uitgevoer deur die Big Five-groep, by die Drostdy-teater om 15:00 en 20:00.

Stellenbosch sal ook leef met saam-eet-geleenthede en feesvierings, met die Voortrekkers-braaidagviering by Die Laer, die Stokbroodbraai in Lapland en verskeie ander plaaslike gemeenskapsbraaie reg oor die dorp. Die stadsaal sal die gasheer wees vir plaaslike markstalletjies, kinders as entrepreneurs en dorpsentrepreneurs.

Die erfenisdagviering vorm deel van ‘n maand lange program wat insluit die hoërskool- en laerskoolkoorfeeste (18 en 21 September); ‘n erfenislesing; ‘n plaaslike erfenisskouspel in Khayamandi (27 September); ‘n gemeenskapsportdag in Meerlust (27 September); die Fees van Wêreldwye Kultuurtradisies (27 September); en die rektor- en burgemeester-erfenistoekennings (22 Oktober) wat leiers in die media vereer.

Die e’Bosch-voorsitter, prof. Matilda Burden, voeg by: “Die aktiwiteite weerspieël die e’Bosch-verklaring van voorneme: Om mekaar te leer ken, waardeer, respekteer en daarmee ‘n gedeelde Stellenbosch-identiteit te bou, welkom en geborge te voel en te floreer; uiteindelik om ‘n gemeenskapslewe te versterk en leierskap te ontwikkel om die erfenis na te laat waarop ons trots is vir geslagte wat kom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article