Die Hoërskool Cloetesville het reeds met die begin van die derby op Donderdag 21 Augustus halfpad verseker dat die beker in Cloetesville se kas sal
staan toe die netbalmeisies met Lückhoff se o.19-netbalspan afgereken het.
Die kapteins van beide skole moes hard met hul spanne praat, maar Cloetesville het ná ‘n naelbytwedstryd 14-12 met Lückhoff klaargespeel. Dis toe Cloetesville se o.19-rugbyspan die Hoërskool Lückhoff verslaan het dat dit duidelik was dat
Cloetesville die dag sal wen.
Asha Zeeman van Lückhoff het wel Cloetesville se kop laat sak toe hy in die sewende minuut agter Cloetesville se pale gaan kuier het. Die kaptein van Cloetesville, Chad Fernandez, het op sy beurt sy span die kop laat lig toe hy twee keer agter Lückhoff se pale gaan kuier het.
Die o.19-sokkerspan het die derby-beker verseker deur Lückhoff HS met 3-0 te verslaan. Hierdie keer was dit vir die voormalige kaptein, Enrico Isaaacs, wat tydens die 2025- Kay Motsepe-skolebeker sy skouer gebreek het, gedane sake. Die eerste doel is deur Ethan van Neel, die jongste speler in die span, aangeteken. Die huidige kaptein, Curtlee Kerwil, het sy skool in die 40ste minuut met sy doel op hul voete gehad. Tien minute later het die plaasvervanger, Diwaan Jappies, verseker dat die beker in Cloetesville sal staan toe hy sy doel aangeteken het.
Beide skole wil graag al die borge vir hul bydrae tot ‘n suksesvolle 2025-derby bedank, insluitend FNB, NTT Volkswagen Stellenbosch en Maties.
Al die derby-uitslae:
• Landloop: Cloetesville 0-3 Lückhoff;
• Skaak: Cloetesville 2-4 Lückhoff;
• Netbal: o.14: Cloetsville 9-8 Lückhoff; o.15: Cloetesville 6-14 Lückhoff; o.16: Cloetesville 11-7 Lückhoff; o.17: Cloetesville 12-11; Lückhoff; o.19: Cloetesville 14-12 Lückhoff
• Rugby: o.16: Cloetesville 19-7 Lückhoff; o.19: Cloetesville 24-7 Lückhoff;
• Sokker: Meisies: Cloetesville 2-2 Lückhoff. Seuns: o.14: Cloetesville 1-2 Lückhoff; o.15: Cloetesville 1-2 Lückhoff; o.17: Cloetesville 2-1 Lückhoff; o.19: Cloetesville 3-0 Lückhoff.





