Die Hoërskool Lückhoff se waarnemende hoof, George Petersen.

Dit is met trots en opgewondenheid dat ek hierdie voorwoord skryf in afwagting op een van die grootste sportgeleenheide op ons skool se sportkalender – die interskole-derby tussen die Hoërskool Lückhoff en die Hoërskool Cloetesville.

Dit is voorwaar meer as net ‘n sportgeleentheid waar ons leerders hul talente gaan tentoonstel – dis ‘n dag waarop twee gemeenskappe bankvas agter hul onderskeie skole sal staan om te wys dat hul kinders die beste op alle gebiede is, hetsy sport, kultuur of gees.

In ons skool se 90ste bestaansjaar, met al sy ryke tradisies, vier ons die geleent- heid om Lückhoff se naam weer eens hoog te hou en te wys dat ons leerders voorwaar gedissiplineerd is op gebiede waar dit baie mededingend is.

Met al die uitdagings wat ons leerders elke dag in die gesig staar, bied dit hulle die geleentheid om die waardes wat hulle nastreef, onder leiding van die skool, te wys en te wys dat sport ‘n geleentheid is om elke struikelblok te oorkom.

Al is die derby ‘n hewige wedywering tussen twee tradisionele “aartsvyande”, word hierdie geleentheid gebruik om hegte bande te bou tussen leerders, opvoeders en die gemeenskappe.

Aan al ons ouers, borge, alumni en fanatiese ondersteuners, baie dankie vir u volgehoue ondersteuning.

Mag ons die bande versterk sodat Lückhoff ‘n baken van hoop in die Idasvallei-gemeenskap bly, waar ons daagliks uitdagings in die gesig staar wat ons toekoms positief of negatief beïnvloed.

Lückhoff het ‘n ryk tradisie van sportsterre – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oorsee. Wees die ambassadeur en wys die wêreld die waardes wat Lückhoff in julle ingeboesem het.

Aan Cloetesville, baie dankie dat julle altyd waardige teenstanders is – nie net op die sportveld nie, maar op elke gebied waar ons as skole teen mekaar wedywer.

Aan my skool, die “Blou gevaar”, ont-hou ons leuse: “Opvoeding is lig”. Wys op en langs die verskillende sportvelde en in die paviljoene dat julle ware ambassadeurs is wat altyd Lückhoff-trots is.

Mag die beste skool seëvier.

Mnr. G.B. Petersen,

Hoërskool Lückhoff

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article