Om die vroue en meisies in jou lewe en gemeenskap te ondersteun, kan vele vorme aanneem, maar vir Keith Present beteken dit om die pad van Stellenbosch na Robertson kaf te draf.

Present (33) is ‘n lid van die Cloetesville-sokkerklub se uitvoerende span. Sport en gemeenskapswerk gaan dus vir hom hand aan hand.

“Ek het met ‘n bietjie navorsing besef wat die nood is wat so baie meisies en vroue vir sanitêre produkte het, en die uitwerking wat dit op hul higiëne kan hê as hulle nie toegang tot doekies het nie,” verduidelik hy.

Run4Wings is toe gebore.

Present sê hy wou vanjaar op verlede jaar se insameling voortbou. “Dit was ‘n sukses en vanjaar het ek gedink ek moet die insameling uitbrei en meer opwindend maak,” sê hy.

So het hy die idee gekry om in Vrouemaand – van 28 tot 30 Augustus – die 129-km-pad van Stellenbosch tot Robertson aan te durf. Draf is hoe Present fiks bly en is daarom die tog wat hy saam met sy neef Marlin Present aanpak.

Die neefs hoop om 50 pakkies in skenkings vir elke 5 km te ontvang om uiteindelik genoeg doekies bymekaar te maak om aan plaaslike skole te kan skenk.

“Dit is onaanvaar dat meisies en vroue moet betaal vir sanitêre produkte vir menstruasie – ‘n natuurlike proses. Hierteenoor verskaf die staat gratis kondomme. Seks is ‘n besluit – menstruasie nie.”

Vir Present is sy ma en tannie die vroue wat die naaste aan sy hart is.

“Wat ek ook al aanpak, weet ek hulle staan bankvas agter my en help om my te motiveer.”

Intussen draf Present daagliks na die Mooiberge-padstal, Jamestown of Klapmuts ter voorbereiding. “Om uithouvermoë op te bou, is my fokus. My kop is in die ding en ek is vol vertroue alles op pad na Roberston sal goed afloop,” sê Present.

• Kontak Tyrone Manuel by 064 822 4576 of Relston Lakay by 074 406 762 om Run4Wings te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article