Alec Abrahams van Idasvallei sê hy is moeg gewag op die Stellenbosch-munisipaliteit om sy titelakte te oorhandig. Foto: Yaël Malgas

Dis al jare nadat hy sy woning afbetaal het, maar Alec Abrahams wag steeds om die papierwerk te kry wat sê die woning in Jordaanstraat, Idasvallei, is amptelik syne.

“My gesondheid is nog goed, maar my grootste vrees is iets gebeur met my voordat die papierwerk hier aankom. Wat maak my seun dan?” wonder die 75-jarige Abrahams.

Hy woon deesdae by sy seun en sy gesin terwyl sy ander kind op ‘n gedeelte van dieselfde erf woon.

Abrahams en sy oorlede vrou, Veronice, het in 1976 reeds in Jordaanstraat ingetrek. Hier het die paartjie hul kinders grootgemaak en uiteindelik die sowat R11 000 vir die huis in 1993 afbetaal.

Hoewel Abrahams nog nie die amptelike titelakte vir die huis ontvang het nie, het die Stellenbosch-munisipaliteit in ‘n skrywe bevestig die huis behoort aan hom. Abrahams vertel egter hy is moeg van beamptes by die behuisings-kantoor se verskonings – veral omdat hulle die proses vir uitreiking uitgerek het.

Die Abrahamse se oorspronklike sertifikaat van geregistreerde titel is blykbaar misplaas, wat beteken die oordrag na Abrahams kon nog nie voltooi word nie.

Die pensioentrekker is in Januarie gesê die munisipaliteit is nou besig om dié dokument te vervang.

Vandeesmaand is daar nog geen amptelike titelakte nie.

“Ek wil nie hê die kinders moet ná my dood sukkel nie. Eers het hulle gesê ek sal dit teen einde April kry, maar dit het ook gekom en gegaan,” sê Abrahams.

“Ek mag nie stres nie, maar hierdie hele besigheid maak my gespanne en elke keer moet ek na die munisipale kantoor gaan en sonder enige sekerheid terugkom.”

By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die munisipaliteit, verduidelik om ‘n eiendom oor te dra, is ‘n lang en ingewikkelde administratiewe proses. Hy sê die munisipaliteit verstaan inwoners se gretigheid om hul titelaktes te ontvang, maar verskeie rolspelers is by die proses betrokke.

“Die munisipaliteit se behuisings-administrasie-span, in vennootskap met inisiatiewe soos die Khaya Lam-projek van die Vryemarkstigting, het onvermoeid gewerk om hierdie proses te vaartbelyn en bespoedig. Private eiendomsreg is die grondslag vir ekonomiese bemagtiging, stabiliteit en sekuriteit en ons sal voortgaan om te werk om elke titelakte van eiendomme in ons gebied te verwerk,” sê Grobbelaar.

Die munisipaliteit het die afgelope paar jaar meer as 2 500 titelaktes na huiseienaars oorgedra.

Intussen is Abrahams in kontak met die behuisingskantoor en Grobbelaar het bevestig munisipale beamptes hou Abrahams op hoogte van die proses en het hom Dinsdag (27 Mei) weer gekontak.

Alec Abrahams van Idasvallei sê hy is moeg gewag op die Stellenbosch-munisipaliteit om sy titelakte te oorhandig. Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article