Deon Barnard in die wedloop oor 21,1km.

Die broers Deon en Dattie Barnard wat op Sondag 16 November die Halfysterman 70.3-uitdaging in Mosselbaai ten bate van die Vrystaat-nasorgsentrum aangepak het, het goeie deelname gehad.

Deon, voorsitter van die Vrystaat-nasorgsentrum, sê hulle het dit baie geniet.

“Die omgewing waarin ons gehardloop het, was pragtig − en die gees van die ondersteuners langs die roete was ongelooflik.”

Dattie en Deon Barnard ná die Half-ysterman 70.3-uitdaging Sondag.

Hy sê toe hulle vanaf Santos-strand tot by De Bakke geswem het, oor 1,9km, was die water ontstuimig, maar dit het goed gegaan.

“Die fietsry was maar ‘n nagmêrrie, veral met die suidoosterwind wat teen 30km/h gewaai het toe ons terugry. Dit was nogal erg.”

Lees die vorige berig hier.

Die twee broers en Deon se swaer Melius de Wet was onder duisende deelnemers van vanjaar se Halfysterman in Mosselbaai.

Deon sê die idee om deel te neem, het tydens hul Desember-familiekuier in Brandon, Engeland, ontstaan.

Atlete hardloop see toe vir die swem-gedeelte, van Santos- strand tot by De Bakke.

“Ek en Dattie het sit en kuier en gesels oor gesond wees. Dattie het al drie keer meer as 30kg afgeskud en dit was weer tyd. Vir my ook.”

Dattie het in 2010 aan ‘n ysterman-byeenkoms deelgeneem en toe hy daarvoor geoefen het, 30kg verloor. Hy is in 2012 met leukemia gediagnoseer en het gewig opgetel. Hy het weer deelgeneem en weer gewig verloor.

“Sedert ons op 1 Januarie vanjaar begin oefen het, het Dattie al 43kg verloor en ek 17kg.”

Dattie, wat in Engeland woon, is reeds 13 jaar kankervry en gebruik elke geleentheid om terug te gee.

“Hy is lief daarvoor om, as hy aan uitdagings deelneem, dit ten bate van een of ander organisasie te doen. Toe hy my vra vir wie ons deelneem, was daar net een antwoord: Vrystaat-nasorgsentrum.”

Dattie (links) en Deon Barnard het hul deelname aan die Ysterman-kompetisie opgedra aan die Vrystaat-nasorgsentrum. FOTO’S: Verskaf

■ Die Vrystaat-nasorgsentrum se Liggiefees is nou aan die gang. Dit is tot 29 November elke aand van 17:30 tot 22:00 oop, op die perseel langs Bloemdalweg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article