Haar kreatiwiteit ken geen perke nie, en haar kennis as bakster laat menige ervare baksters kopkrap.
Die 16-jarige Wilmé Geldenhuys, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Jim Fouché, spog reeds met haar eie sakeonderneming – ’n droom wat begin het toe sy slegs ’n paar eenvoudige kleinkoekies gebak het.
Wilmé se liefde vir bak het bykans vyf jaar gelede vlamgevat toe sy as laerskoolleerder koekies gebak het om geld vir haar skool in te samel. Daar het die gogga behoorlik gebyt. Wat toe as ’n vakansiestokperdjie begin het deur koekies vir vriende en familie gedurende Desember te bak, het vinnig in iets veel groter ontwikkel.

Vandag staan haar bak-onderneming, Miempies, bekend vir ’n indrukwekkende verskeidenheid skeppings: van elegante verjaardagkoeke tot stylvolle troukoeke en unieke koeke vir spesiale geleenthede wat volgens kliënte se spesifieke behoeftes ontwerp en gebak word. Haar oog vir die fynste besonderhede en honger om nuwe tegnieke te bemeester, onderskei haar produkte in ’n baie mededingende mark.
Die jong entrepreneur is bevoorreg om haar passie in ’n goed toegeruste kombuis by haar ouerhuis uit te leef. Op ’n kleinhoewe net buite Bloemfontein, word meel en suiker omskep in kunswerke. Haar onderneming het so gegroei dat sy deesdae ook koekies om aan ander sakeondernemings verskaf, terwyl getroue kliënte jaar ná jaar hul verjaardagkoeke by haar bestel.



“Dit is vir my lekker om nuwe idees en veral tegnieke te probeer. Wanneer ek daarin slaag om ’n nuwe tegniek te bemeester, kan ek nie wag om die volgende een aan te pak nie,” vertel Wilmé entoesiasties.
Sy woon gereeld kursusse by om haar vaardighede te slyp en het onlangs die kuns van suurdeegbrood onder die knie gekry. Beslis ’n kombinasie van tradisie en innovasie wat haar liefde vir die kulinêre wêreld weerspieël.
Maar haar talente strek veel verder as die kombuis. Wilmé is ook ’n begaafde skilder en ’n kranige netbalspeler. Soos meeste tieners geniet sy ’n aktiewe sosiale lewe, terwyl haar liefde vir diere duidelik blyk op die kleinhoewe waar sy saam met haar gesin woon. Daar boer hulle met skape en bokke, en haar lewendige Boston-terriër, Stella, is haar getroue skaduwee.
Met haar matriekjaar nog ’n entjie weg, droom Wilmé reeds groot. Ná skool hoop sy om as au pair in Europa te werk om haar horisonne te verbreed, waarna sy haar studies aan die Instituut vir Kulinêre Kunste (ICA) in Stellenbosch wil voortsit om haarself as ‘n sjef te kwalifiseer.
Met ondernemingsgees, deursettingsvermoë en ’n hart vol passie bewys Wilmé dat drome nie ouderdom ken nie. Soms begin dit bloot in ’n klein kombuis, op ’n rustige kleinhoewe – met ’n handvol kleinkoekies en ’n groot dosis wilskrag.





You must be logged in to post a comment.