Elizna Prerius het tot in 2017 aan diskus deelgeneem. FOTO: Verskaf

Bloemfonteinse diskusgooiers het ‘n atleet in hul midde wat aan twee Olimpiese Speles gaan deelneem het.

Elizna Pretorius (née Naudé) wat al die afgelope 17 jaar ‘n afrigter in dié atletieknommer is, hou ook die Suid-Afrikaanse diskus-rekord van 64.87m wat sy in 2007 opgestel het.

Oorspronklik van Sasolburg, het sy in 2018 na Bloemfontein verhuis waar sy nou ‘n wiskunde-onderwyser by die Laerskool Willem Postma is.

”Die Here het my hierheen gestuur,” gesels sy oor haar loopbaan.

Elizna Pretorius se atlete is van links, voor: Mareli Earle; tweede ry: Marli Jacobs, Iske le Roux, Elizna Pretorius (afrigter), Nehan Vermaak, Judith Watson en Wian Bredenkamp; agter: Yolandi Stander, Tyla Wasmüth, Conrad van der Zwaard, Aron Alvarez Aranda, W.M. Pretorius en Teboho Motloung. Foto: Lientjie Mentz

Van die hoogtepunte in haar loopbaan is die 2004 Olimpiese Spele in Athene en die 2008 Spele in Beijing, maar veral die Statebondspele in 2006 waar sy goud gewen het.

Sy het tot in 2014 aktief in dié sport deelgeneem, en het in haar loopbaan van 17 jaar talle goue medaljes in internasionale byeenkomste behaal.

“Dit is vir my nou lekker om terug te gee. Danksy my ondervinding kan ek help om hulle reg voor te berei vir kompetisies.”

Sy sê elke atleet is anders en as afrigter moet ‘n mens daarby aanpas.

”Ek is daar om te help met hul tegniek. As hy of sy die perfekte gooi uitvoer, vra ek: Hoe het dit gevoel? Onthou dit wanneer jy gooi.”

Vandag rig sy talle diskus-atlete in die stad af waarvan talle goed presteer.

Een van die uitblinkers is Yolandi Stander wie se persoonlike beste afstand van 58.80m, haar afrigter se rekord bekruip. Sy en Pretorius het lank saam geoefen. Stander, ‘n onderwyser by die Hoërskool Fichardtpark, was die Suid-Afrikaanse kampioen van 2022 tot 2024 en was in 2023 tweede in die Wêreldstudentekampioenskap. Sy het vanjaar weens ‘n besering nie deelgeneem nie.

Nog ‘n senior uitblinker is Tyla Wasmüth wat ‘n persoonlike beste van 50.94m het en pas elfde gekom het in die Wêreldstudentespele in Duitsland.

Judith Watson was eerste in die o.18-afdeling op die Suid-Afrikaanse Skole-byeenkoms in Bloemfontein met ‘n persoonlike beste van 51.67m.Aaron Alvarez Aranda wie se persoonlike beste in die 2kg nou 61.14m is, het ‘n agtste plek behaal op die Amerikaanse Atletiekkampioenskap vir Universiteite en by die Wêreldspele vir Universiteite in Duitsland was hy negende.

Dit is egter nie net senior atlete wat danksy hierdie ervare afrigter presteer nie. Mareli Earle het op die Suid-Afrikaaanse Kampioenskappe in Germiston vroeër vanjaar 32.75m gegooi in die o.12-afdeling vir meisies. Sy het ‘n derde plek behaal.

Marli Jacobs (o.15) het ‘n tweede plek op die Suid-Afrikane kampioenskappe in 2024 behaal met ‘n afstand van 38.83m en het vanjaar weer deelgeneem. Conrad van der Zwaard het vanjaar op die SA Skole ‘n derde plek vir o.18-seuns behaal met ‘n persoonlike beste van 49.49m.

Nog ‘n atleet wat afrigting by haar ontvang, is Nehan Vermaak. Sy persoonlike beste in die SA’s is 37.71m vir seuns o.13. Wian Bredenkamp (seuns o.14) was eerste op die Vrystaatse kampioenskap in die o.15-afdeling met ‘n afstand van 56.99m.

Iske le Roux was op die Vrystaatse kampioenskap eerste in die afdeling vir meisies o.14 met ‘n afstand van 34.12m.

Teboho Motloung (o.15) was eerste op die Vrystaat-kampioenskappe. Sy persoonlike beste is 51.23m.

WM Pretorius neem deel in die ouderdomsgroep o.16 en het ‘n eerste plek op die Vrystaatse Skolebyeenkoms behaal met ‘n afstand van 48m.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article