Die Vrystaatse begroting vir 2026-’27 is gemik op korttermyn-stabiliteit, maar laat die toekoms van inklusiewe groei en strukturele transformasie onseker.
Só sê dr. Celeste Campher, senior lektor aan die department ekonomie en finansies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Sy sê die begroting wat op Dinsdag 17 Maart deur Ketso Makume, LUR vir finansies, in die Bloemfonteinse stadsaal voorgehou is, word gesien teen die agtergrond van gedempte ekonomiese groei, fiskale beperkings en toenemende druk op dienslewering in dorpe oor die Vrystaat heen.
“Met nasionale groei wat na verwagting op die medium termyn onder 2% sal bly, weerspieël die provinsie se fiskale strategie ‘n sorgvuldige balanstoertjie tussen die handhawing van maatskaplike stabiliteit en die stimulering van ekonomiese herstel.”

Campher sê hoewel die begroting ‘n duidelike bewustheid van die provinsie se uitdagings wys, is daar spanning tussen korttermynverligting en langtermyntransformasie.
Sentraal tot die Vrystaat se ekonomiese groei en werkskepping, staan die provinsie se infrastruktuur.
“Die toewysing van meer as R7,3 miljard aan die departement van openbare werke en infrastruktuur oor die medium termyn dui aan dat dit as belangrik geag word.
“Dit word egter gerig op instandhouding, munisipale dienste en bestaande verpligtinge, eerder as nuwe kapitaalbelegging.
“Hierdie beperking word vererger deur die herprioritisering van geld weg van padonderhoud om die Presidensiële Indiensnemingsstimulus te ondersteun.”
Lees ook: Free State budget fails to meet real needs, says DA.
Campher sê padinfrastruktuur is sentraal tot landbouproduktiwiteit, landelike toegang en beleggingsaantrekking, en die onderfinansiering daarvan kan rimpel-effekte oor die ekonomie heen hê.
“In hierdie sin lyk die infrastruktuurbegroting eerder verdedigend as ontwikkelingsgerig; gefokus op die behoud van bestaande bates eerder as die uitbreiding van ekonomiese kapasiteit.
“Onderwys bly die grootste bestedingsgebied, met meer as R62,8 miljard wat daaraan toegewys is.
“Daar is egter beperkte bewyse van belyning tussen onderwysbesteding en die provinsie se breër ekonomiese strategie.
“Sonder sterker belegging in tegniese en beroepsvaardighede, kan die onderwysstelsel sukkel om die provinsie se ambisies vir industrialisasie en landbou-ontwikkeling te ondersteun.”
Campher sê die toewysing van meer as R3,3 miljard, tesame met voorkeursake soos landbouer-ondersteuning, veeartsenykundige dienste en landbouopleiding, weerspieël ‘n gesonde begrip van die sektor se belangrikheid.
Lees ook: Vrystaat se salarisrekening staan op 65% terwyl ekonomie kwyn.
“Die sektor het egter onmiddellike risiko’s, veral bek-en-klouseer, wat veeproduksie en landelike bestaansmiddele bedreig.
“Hoewel die begroting hierdie uitdaging erken, is dit minder duidelik of voldoende hulpbronne en gekoördineerde ingryping in plek is om die invloed daarvan effektief te verminder.
“Miskien is die grootste gaping in die begroting die beperkte aandag aan wanfunksionerende munisipale waterinfrastruktuur.
“Hoewel die belangrikheid van dienslewering erken word deur instandhoudingsbesteding en munisipale verpligtinge, is daar geen duidelike, gefinansierde strategie om bestuursfoute, tegniese kapasiteitsbeperkings of verswakkende waterstelsels aan te spreek nie.”
Campher sê hierdie weglating uit die begroting is “kritiek”.
“Effektiewe munisipaliteite en betroubare waterinfrastruktuur vorm die grondslag vir ekonomiese groei én maatskaplike welstand.”
Sy sê die afwesigheid van ‘n beslissende, gefinansierde strategie om falende munisipaliteite en verswakkende waterinfrastruktuur op te knap, is veral kommerwekkend, gegewe hul sentrale rol in dienslewering én ekonomiese aktiwiteit.






You must be logged in to post a comment.