Belangstelling in die 25ste Vrystaat Kunstefees, wat môre begin, is so goed dat enkele vertonings reeds voor die begin van die fees, wat van 15 tot 19 Julie duur, uitverkoop is.
Die fees word, soos altyd, op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied.
Namate die hekke oopmaak, die musiek begin speel en die teaterligte aangaan, klop die hart van die Vrystaat saam op die maat van kuns, kultuur en samesyn.
Benewens die feestelikheid waarna Bloemfonteiners en besoekers van oor die land heen kan uitsien, kan die breër invloed van die Vrystaat Kunstefees nie onderskat word nie.
In 2024 was daar:
- 44 895 kaartjies wat verkoop is;
- 133 000 besoekers;
- ‘n ekonomiese inspuiting van R46 miljoen in die plaaslike gemeenskap;
- 945 kunstenaars wat deelgeneem het;
- 307 tegnici wat betrokke was;
- 500 stalletjie-eienaars wat produkte verkoop het;
- 3500 indirekte werkers wat tot die sukses bygedra het;
- meer as 20 mediavennote; en
- 92 106 besoeke aan die kunstefees se webblad tydens die feesweek.

Michael Garbett, feesdirekteur, sê as hulle kyk na hou dinge nou lyk, wys alles daarop dat 2025 nog groter gaan wees.
“Dit is ‘n bewys dat die fees nie net kultureel nie, maar ook ‘n broodnodige ekonomiese inspuiting vir die streek is. Met ‘n uitstaande program, sterk gemeenskapsbetrokkenheid en groeiende belangstelling van oor die land heen, bewys die Vrystaat Kunstefees dat kuns saak maak, vir mense én vir vooruitgang.”
Garbett sê die Vrystaat Kunstefees bring mense byeen, bou drome en is ’n dryfveer vir groei.
“Hierdie 25-jaar mylpaal bevestig dat kuns nie net harte aanraak nie, maar ook gemeenskappe versterk.”
Hy sê sommige vertonings is reeds baie naby aan uitverkoop. Dit sluit in die konsert van Karen Zoid, en ook Tollie Parton en Kry vir jou ’n Tux, Thomas.
Hans Haas, Marion Monroe en Magda en haar Erhard: How Louw can you go, is reeds uitverkoop.






You must be logged in to post a comment.