Die Bloemfonteiners Elmé de Villiers en Nita Scholtz-Albertse het verseker die Afrika-pluimbaltitel vir vroue kom weer terug na Suid-Afrika.
Die Afrika kampioenskapsbyeenkoms is van 9 tot 15 Februarie in Gaborone, Botswana, beslis. Suid-Afrika het die titel gewen ondanks baie sterk kompetisie van ander Afrika-lande.
Die spankompetisie het met groepwedstryde begin, en Suid-Afrika het in die eerste ronde gemaklik met die span van Zimbabwe (5 – 0) afgereken.
In die tweede ronde het die span teen Nigerië te staan gekom. Die wedstryd was belangrik, want die wenner kon die kwarteindstryd oorslaan. Dit was ‘n titaniese stryd, met Suid-Afrika wat 3 – 2 gewen het.


Scholtz-Albertse en De Villiers, kaptein van die span, het elk hul enkelspelwedstryde gewen; Scholtz-Albertse het die wenpunt verseker deur met haar Gautengse maat Amy Ackerman die dubbelspel te wen.
Met die een dag ekstra rus het Algerië in die halfeindstryd gewag, maar die Suid-Afrikaners was te sterk en het met 3 – 0 geseëvier met Scholtz-Albertse en De Villiers wat hul enkelspelwedstryde gewen het.
In die eindstryd het ‘n sterk span van Egipte met ‘n unieke uitdaging teenstand gebied.
Die twee Bloemfonteiners moes eenvoudig hul wedstryde wen om Suid-Afrika ‘n kans te gee.
Scholtz-Albertse het in ‘n uur lange wedstryd teen Egipte se nr.1-speler teruggeveg nadat sy die eerste spel verloor het – om uiteindelik te seëvier.
De Villiers het teen Egipte se mees ervare speler te staan gekom, wat al op verskeie Olimpiese Spele gespeel het, maar het van haar beste spel in jare gelewer om die wedstryd te beklink.
Egipte het die derde enkelspel gewen, en dit het die druk weer terug op Scholtz geplaas om in die dubbelspel die wenpunt te verseker, wat sy ook gedoen het.
Suid-Afrika het die eindstryd 3 – 1 beklink. Dit beteken Suid-Afrika kwalifiseer om in die wêreldspankompetisie se eindronde in Denemarke teen die einde van April te gaan deelneem. Net die beste 16 lande in die wêreld neem hier deel.






You must be logged in to post a comment.